Weskus rugby-klubs maak reg vir groot kompetisie.

Die onoorwonne Saldanhabaai-rugbyklub het die afgelope Saterdag (1 November) sy vierde agtereenvolgende oorwinning aangeteken en daarmee sy plek in die half-eindstryd in die Boland-Top-12 op die Boland-stadion in Wellington bespreek.

Saldanha het Delicious NW van Clanwilliam op die Transnet Saldanha-rugbystadion met 32-23 verslaan. Saldanha het van die afskop af doelgerig gespeel en vinnig gapings in Clanwilliam se verdediging gevind. Mikyle Hanse druk eerste ná ‘n slim tikskoppie en lang aangee na die vleuel. Die wind keer dat die doelskop slaag.

Ondanks ‘n geen-drie-beslissing en hanteringsfoute het Saldanha voortgestu en Craig van Rensburg het ná puik werk deur Nathan Gouws ‘n tweede drie (10-0) gedruk. ‘n Kragtige dryfmaal het tot die haker, Neill Mathesen, se drie gelei (15-0) voordat Clanwilliam twee strafskoppe oorgeklits het (15-6). Saldanha het weer toegeslaan met Ambijorn Vraagom (agtsteman) wat ná ‘n skrum gedruk het (20-6). Clanwilliam het net voor rustyd teruggeveg met sy eerste drie (20-11).

Die besoekers het die tweede helfte met die wind in hul guns sterk begin. Saldanha sy plaasvervangers in die 48ste minuut geroep, maar ongedissiplineerde spel het tot ‘n geelkaart gelei.

Clanwilliam het hardnekkig aangehou, maar Darren Visser het Saldanha se vyfde drie gedruk (25-11). Die besoekers het geantwoord met Cohen Beukes wat oorgeduik het(25-16), waarna Marlon Hofmeester (flank) onder die pale gaan druk het (25-23).

Samuel Greyling het die bal in ‘n dramatiese einde na Jordan Marias gestuur, wat oorgestap het om die wedstryd 32-23 vir Saldanha te beklink.

Vredenburg hoopvol

Die Vredenburg-rugbyklub het steeds ‘n wiskundige kans om vir die Groep A-halfeindstryd te kwa- lifiseer ná sy oortuigende sege oor die Vanrhynsdorp Eagles. Volgens David Rossouw het Vredenburg die wedstryd oorheers.

Mezonoven Bezuidenhout het ná ‘n agterlynbeweging die eerste drie gedruk, met Ashley Esau wat verdoel het (7-0). Skaars twee minute later het Bezuidenhout onderskep en onder die pale gedruk en Esau het verdoel (14-0). Die Eagles het teruggeveg en hul eerste drie (14-5) gedruk. Mario van Rooyen het daarna deurgesny en Llewellyn Hahn vir hul tweede drie gevoer, wat verdoel is (14-10).

Vredenburg het vinnig reageer met Jeandre Jacobs wat agter die pale afgerond en Esau wat twee punte bygesit het (21-10). ‘n Geelkaart aan Leano Haupt het nie die momentum gebreek nie en Wilber Smede het ‘n bonusdrie (26-10) gedruk, waarna Eagles se Slabbert ook gedruk (26-15).

Ná rustyd het Vredenburg die tempo verhoog en sy vyfde drie binne vyf minute gedruk (33-15), waarna Eagles se Jeraldo van Neel gaan druk het (33-22). Hulle het ook ‘n bonusdrie bygevoeg, maar Rewaldo Sogqop het Vredenburg se agtste drie vir ‘n 48-29-sege gedruk.

• Saterdag (8 November) speel Saldanha teen Robertson, die voorloper van Groep B – ‘n botsing wat vuurwerke beloof.

• Vredenburg reis na Botrivier en moet wen om sy halfeindkans lewend te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article