‘n Bekende sakeman van Vredenburg is verlede Woensdag (28 Januarie) op 90-jarige ouderdom oorlede.
Rudy Brits (90), die vorige eienaar van Rudy Brits Sales, is by sy woning in Huis Wittekruin weens longprobleme dood.
Hy het sy loopbaan as ‘n treindrywer in KwaZulu-Natal begin, maar dit was kortstondig. Daarna het hy sy eie sakeondernemings gestig, waaronder musiekwinkels, ‘n naaimasjienwinkel en later meubelwinkels.
Aanvanklik was hy in Gauteng en later in die Standerton-, Newcastle- en Vryheid gebiede, waar hy verskeie winkels besit het. Hy het onder meer ook orrels verkoop.
Brits kon ook enige musiekinstrument bespeel en het in daardie stadium sy eie eenman-orkes bedryf. Desjare het hy ook sy eie vliegtuig gehad en tussen sy winkels rondgevlieg. Hy het sy personeel hier aan die Weskus ook op ‘n vlug geneem.
Volgens sy swaer, Bertie Visser, het Brits in 1976 na die Paarl-Wellington-gebied verhuis, waar hy verskillende ondernemings bedryf en as afslaer bekendgeraak het.
“Hy het in 1988 eers na Saldanha en later na Vredenburg weens sy longkwaal vir die koeler weer verhuis. Hy het Rudy Brits Sales in Vredenburg bedryf en is bekend vir die veilings op die perseel. Hy het sy onderneming en winkelnaam in 2004 verkoop en in Lambertsbaai gaan woon, waar hy en sy vrou ‘n gastehuis bedryf het,” vertel Visser.
Gedurende 2011 het hy weer ‘n meubelwinkel, genaamd Prestige Furniture, op sy eertydse perseel begin. In 2014 het hy hierdie onderneming aan Visser en sy vrou, Cornelia, verkoop, wat tans die eienaars is. Hy het finaal afgetree nadat dimensie by hom gediagnoseer is.
Visser sê Brits sal onthou word vir sy vrygewigheid, dat hy altyd reg was om te onderhandel en omdat hy baie mense geldelik gehelp het. “Verskeie kerke het hom altyd om hulp genader. Hy was ook by die
Gideons betrokke en was bekend vir sy orrel en trekklaviermusiekspel,” voeg Visser by.
Brits laat sy vrou, Rina (80), agter, met wie hy 53 jaar getroud was. Hulle huweliksherdenking is op 10 Januarie vanjaar vir oulaas gevier.
• Die begrafnis vind op Woensdag 11 Februarie om 14:00 by Huis Wittekruin plaas.




