Net so neffens die hoofroete tussen Vredenburg en Saldanha, in die skaduwee van die blinknuwe Stoneridge-ontwikkeling en op die soom van die Weskus Mall, lê hy – inteendeel, hy troon oor die landskap uit.

Vir eeue reeds is die sogenaamde “Jesus-klip” (soos hy in die volksmond bekendstaan) die stille getuie van die kom-en-gaan van mense, hul pogings om die oergrond mak te maak en uiteindelik die nuwe sooie vir die ewig uitbreiende toekomsgerigte en dikwels ook destruktiewe beskawing te spit.

Ten spyte van sy prominensie het die meeste Weskussers weinig vrae oor die bekende baken.

So af en toe, wanneer dit onder ‘n vandale-hand deurloop, sal dit aandag trek en sal sommige mense, al spoegspattend, hul ongelukkigheid met die plaaslike owerhede of ‘n gesiglose ander potensiële beskermer se afsydigheid te kenne gee – oombliklik, sonder om werklikwaar enige verdere aksie te neem om dit te beskerm.

Vir eeue reeds dien hierdie prominente rots as ‘n belangrike baken vir mense wat nuut hier aankom.

Historiese geskrifte dui daarop dat die eerste Europese aankomelinge in Hoedjiesbaai, sonder uitsondering, hierdie einste rots as eerste baken in hul soektog na vars drinkwater in ‘n andersins brak en droë landskap gebruik het.

In dié verband kan die pogings van die ghwanoskrapers, wat gedurende die 1840’s in Hoedjiesbaai anker gegooi het en die bemanning van die CSS Alabama in 1863 as voorbeelde voorgehou word.

Dit is verder ook meer as waarskynlik, gegewe die onbelemmerde uitsig wat die rots in die rigting van die baai bied, dat die einste klip en sy grotte honderde jare gelede nie net as ‘n rusplek nie, maar ook as ‘n natuurlike uitkykpunt vir die Khoi en die San hier te lande gedien het.

Argeologiese bewyse van Khoi-aktiwiteite en die oorblysels van tradisionele verblyf-, sterfte- en visvang- en jag-aktiwiteite, is die wêreld vol – somtyds tot groot ongemak van sommige nuwe intrekkers wat eerder die blou see, wit strande en ‘n welkome drink-dingetijie teen sononder asook ‘n onversteurde landskap sonder ‘n diep storie van pyn, ontheemding en verstoting verkies.

Die “Jesusklip” se verdere aanspraak op historiese prominensie en as ‘n getuie van groot tye word verder versterk deur fotografiese getuienis dat dit naas die nabygeleë Oorlogsvlei-plaas by die Jakobsbaai-kruising ook ‘n rol in die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 gespeel het.

‘n Onlangse foto op Facebook stel voor dat die strategiese plasing van die rots nie net ‘n bruikbare uitkykpunt in alle rigtings gebied het nie, maar ook klaarblyklik as natuurlike fortifikasie en as kampplek vir Britse troepe in die onmiddellike omgewing gedien het.

Hierdie gegewe, jammerlik, het nie eens die munisipale erfenis-opname en databank gehaal nie.

Vredenburg se bekendste rots het oor die jare ook sy eie bydrae tot die trane en hartseer van die omliggende gemeenskap gemaak. Berigte van kinders – aangetrek deur die alomteenwoordige rotsformasie – en wat in skeure beland het, het verder tot die verhaal van die ruimte bygedra.

Gesamentlik het hierdie gebeure dus ‘n situasie geskep en daartoe bygedra dat hierdie kollos in die Weskus-landskap meer as bloot ‘n onbetekenisvolle natuurlike formasie is.

Die Jesus-klip is inderdaad ‘n historiese baken en betekenisvolle landmerk waar historiese gemeenskappe ontmoet en hul eiesoortige merk gelaat het. Die rots behoort dus met groter respek deur almal – ingeslote die munisipale en ander regeringsowerhede, grondeienaars en ontwikkelaars – behandel te word.

Ons sien daarna uit om die omgewing daar rondom as ‘n histories betekenisvolle ruimte ontwikkel te sien. Dit moet ‘n ruimte word vir beide argeologiese navorsing en ‘n besliste viering van almal se gemeenskaplike erfenis.

Die vraag is: Sien ons daarvoor kans?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article