Bly hoop en glo

Is jy ook soos ekself op ‘n mespunt oor die gebeure wat hom deesdae op globale vlak afspeel? Ja, jy is reg … ek verwys hier na die oorlog wat hom in die Midde-Ooste afspeel. ‘n Mens kan maar net spekuleer of dit wat ons reeds waargeneem het, binne die volgende paar weke gaan eskaleer en of daar deur middel van vredesonderhandelinge ‘n goue middeweg gevind kan word.

Hier waar ek myself bevind, sit en wonder ek ook waar Suid-Afrika iewers in die prentjie sal inpas, want hoor hier … ons Suid-Afrikaners is darem maar ‘n nasie enig in sy soort.

Die afgelope paar weke is die hele wêreld in rep en roer. Daar is ernstige sprake van ‘n Derdewêreldoorlog.

Die res van die wêreld hou die asem op en hoop dat alles so spoedig moontlik na normaal sal terugkeer. En wat doen party Suid-Afrikaners? Ons kies toe maar weer om ‘n bietjie die draak te steek met die hele gedoente.

Foeitog, ‘n mens moet seker maar ons nasie verskoon. Ons het al deur soveel drama en trauma gekom.

En al wat ons nog altyd deur alles gedra het, is ons veerkragtigheid en ‘n goeie sin vir humor.

Nee kyk, ons kan vir jou gekskeer met alles en almal.

Soos baie ander mense probeer ek ook maar op hoogte bly van sake rakende die nuutste wêreldgebeure, veral noudat die gerugte van ‘n groter oorlog al hoe harder begin omgaan. Ek verkies om my bronne noukeurig na te gaan, want fopnuus is ‘n werklikheid. Maar as ek net vinnig ‘n ogie wil vang op wat in die wêreld aangaan, dan is daar darem baie inligting op sosiale media beskikbaar – van diep ernstig tot pure sensasie.

En dis juis op sosiale media waar ek toe op die skreeusnaakse insette rakende die nuutste wêreldgebeure afkom.

Een Suid-Afrikaanse paartjie hoor toe glo die geraas van missiele wat afgeskiet word en vlug nou ghamma vir hul lewe. Die tannie stop skielik en skreeu benoud vir haar man dat hulle vinnig moet teruggaan huis toe, want sy het haar valstande vergeet. Sy sien nie kans om met ‘n pap bekkie te “surrender” nie.

Dis nog niks nie.

Terwyl almal in gewyde posisies bid dat die oorlog tog nie na Suid-Afrika moet oorspoel nie, sit ene oom Hennie ‘n video op sosiale media waar hy die oorlede Brenda Fassie se treffer Vulindlela staan en na-aap.

Kan jy dit nou oorvertel?

Hy is gewis nie een van my wit broers wat een van die dae Amerika toe gaan trek nie. Sy liefde vir ons land lê net te diep.

Wat vir my egter die koek vat, is daai video’s waar die gek geskeer word met ons soldate hier aan die tuisfront. Iemand het ‘n video’tjie gedeel waar een van ons vroulike soldate vreeslik sukkel om een van daai groot weermagtrokke van agter te bestyg.

Haai, foeitog … dit was nou een groot gesukkel.

Selfs ek het asem opgehou.

En soos ek die gedoente sit en dophou, begin my gedagtes loop. Wat as daar wel ‘n oorlog uitbreek en ons land moet ook skouer bysit om vir vrede te veg? Is ons troepe fiks genoeg om die nodige te doen? Kan hulle ‘n geweer behoorlik hanteer as dit moet?

My moed sak sommer in my skoene, want daai prentjie van die vroulike soldaat bly in my kop maal.

Honderde “streetwise threes” en “family meals” met ekstra “mash and gravy” is al wat ek voor my sien. En ons almal weet mos – daai goed is diep ongesond, maar diep lekker. En voor jy kan sê oorlog, tel jy ekstra rolle om die maag – en die boude – op.

En dan kan jy nie meer daai weermagtrok van agter bestyg nie.

Los maar vir vlug vir die vyand.

Dalk is ek verkeerd, maar bewys my dan asseblief verkeerd. Ek het regtig die begeerte om te sien hoe fiks en gereed ons troepe is as hulle ons land moet beskerm.

Is daar nie iemand wat ‘n paar video’s kan deel van ons weermag wat hard oefen en topklas fiks is nie?

Ek wil nie meer daai foto’s sien waar generaals en offisiere soos oorgewig smulpape lyk nie.

Ek meen maar … wie gaan ons beskerm as daar inderdaad ‘n Derdewêreldoorlog uitbreek?

Het ons die toerusting om die land te beskerm? Het ons soldate nog die spoed om te hardloop as daar gehardloop moet word?

En wat eet ons soldate op ‘n daaglikse basis?

Ek hoop hulle volg darem ‘n gebalanseerde spyskaart, want party van my broers en susters lyk of hulle ‘n badkamerskaal in sy peetjie in gaan laat klok.

Is ek onnodig angsbevange as ek so oor ‘n potensiële oorlog dink?

Liewe Vader van genade, ek bid tog dat enige oorlog van enige aard nie in my vaderland sal uitbreek nie.

Want hoe gemaak … ?

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article