CapeNature het die viering van Mariene Beskermde Gebied (MBG)-dag met ‘n gemeenskapsgedrewe strandskoonmaak by die Rocherpan-natuurreservaat op Donderdag 31 Julie begin.
Dié natuurreservaat is tussen Dwarskersbos en Elandsbaai geleë.
Leerders, vrywilligers en die immergewilde Kai, die Cubs Club-gelukbringer, het almal ‘n handjie bygesit om die verband tussen mariene- en oseaanbeskerming en die publiek se verantwoordelikheid om die omgewing te bewaar uit te lig.
Nou in sy vyfde jaar is MBG-dag ‘n groeiende internasionale beweging toegewy om bewustheid te verhoog oor die rol van MBG’s in die bewaring van biodiversiteit, die ondersteuning van volhoubare ontwikkeling en die versekering van langtermyn oseaangesondheid.
Die dag, wat die eerste keer in 2021 in Suid-Afrika van stapel gestuur is, herdenk die historiese proklamasie van 20 nuwe of uitgebreide MBG’s in Suid-Afrika op 1 Augustus 2019, ‘n belangrike mylpaal in marienebeskerming.
Vanjaar se tema, “Oseaanbeskerming benodig menslike verbintenis”, beklemtoon die rol wat mense speel in suksesvolle marienebewaring, met meer as 90 geleenthede wat in meer as 25 lande gehou is.
CapeNature bestuur sewe van Suid-Afrika se 42 MBG’s, benewens vier eilande naby die kus en 13 riviermondings, waarvan baie nie formeel as MBG’s aangewys is nie, maar aansienlik bydra tot die land se mariene en kusbeskermde landgoed.
“Mariene beskermde gebiede is die onderwater-aanwysers van ‘n gesonde omgewing,” het dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature, gesê. “MBG’s is meer as net lyne op ‘n kaart; hulle is deel van ‘n lewende netwerk wat afhanklik is van wetenskap, afdwinging, vennootskappe en bowenal mense. MBG-dag is ‘n herinnering dat ‘n gesonde oseaan begin met ingeligte en betrokke gemeenskappe wat deel is van die marienebeskermingsoplossing.”
CapeNature werk nou saam met vennote, insluitend die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE), universiteite, bewarings-NRO’s en navorsingsinstellings, om gereelde monitering oor beskermde kusgebiede uit te voer. Dié pogings spoor biodiversiteit na, monitor bedreigings en lig aanpasbare bestuur uit in die lig van uitdagings soos oorbevissing, besoede-
ling, indringerspesies en klimaatsverandering. Sluit aan by die gesprek en toon jou ondersteuning deur #MPADay2025 en #LetsTalkMPAs op sosiale media te ge- bruik. Vir ‘n lys van geleenthede elders, gaan na mpaday.org/south-africa





