Sosiale media bied vir baie mense die ideale platform om ou, onderdrukte venynigheid op ander uit te haal en neerhalende opmerkings te maak, want die beoogde teiken is ‘n “virtualiteit” ver.

Ons ervaar dit baie by die koerant dat iemand inskiklik is, selfs verskonend, wanneer ‘n saak uitgepraat word, maar dan aanvallend raak op sosiale media oor die kwansuis gedane saak.

Die koerant se siening word op feite gegrond en is geskoei op mediawetgewing. Wanneer besluit word om ‘n artikel nié te plaas nie, het die redakteur ‘n rits redes en is vooraf op-en-af oor die saak geredeneer.

Wanneer kinders betrokke is, word die saak met nog meer omsigtigheid hanteer.

Die land én die wêreld loop oor met skoonheids-, model-, sang- en dergelike kompetisies wat nié geakkrediteer is nie. ‘n Vinnige internet-soektog sal dadelik vir ‘n verantwoordelike ouer die rooi ligte laat flikker.

Weslander kan nié in blote goeie vertroue stories plaas en lesers vra om geldelik by te dra tot projekte of kompetisies met swak reputasies nie. Die koerant gaan nie die kans waag om dalk onwetend tot die uitbuiting van ‘n kind met talent by te dra nie.

Geakrediteerde kompetisies en projekte waaraan talentvolle kinders kan deelneem, bestaan wel.

Ouers word gewaarsku om hul huiswerk deeglik te doen voordat hulle hul kinders se hoop op iets plaas wat hulle net gaan teleurstel – en, soos in baie gevalle, die ouers duisende rande uit die sak gaan jaag.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article