Theodore Cloete (36). Foto: Theodore Cloete/ Facebook

Theodore Cloete (36) van Klapmuts is op 27 Junie saam met ‘n vriend in Philippi op die Kaapse Vlakte deur sewe mans beroof wat voorgegee het dat hulle verkopers van ‘n hommeltuig op Facebook Marketplace is.

Die twee het omstreeks 10:15 by die huisadres aangekom om die hommeltuig te gaan haal.

Cloete, die eienaar van die klankmaat- skappy Level 5 Entertainment in Klapmuts, het nie iets agterdogtigs vermoed nie.

Volgens ‘n berig van Netwerk24 het sewe jong mans – sommige gewapen – die slagoffers oorval kort nadat hulle uit hul voertuig geklim het.

Cloete vertel dat ‘n jong seun met hul aankoms buite die huis gestaan het. Hy het hulle glo gevra om uit te klim en die hommeltuig in die huis te gaan haal. Kort daarna het die seun “tata!” geskree, waarna die groep mans hulle bestorm en hul besittings afgevat het.

‘n Tromstel is ook gesteel. Foto: Faren-Ann Hartzenberg/ Facebook

Volgens Cloete is hy en sy vriend met vuurwapens gedreig terwyl die aanvallers geld en waardevolle artikels geëis het. Die groep het uiteindelik gevlug met sowat R4 500 kontant, twee selfone (‘n iPhone en ‘n Samsung), asook ‘n trom- stel wat in die bagasiebak van hul voertuig was, het Netwerk24 berig.

Die BMW E90 waarmee hulle gery het, is ook gesteel. Cloete en sy vriend is hulpeloos agtergelaat met net die klere aan hul lyf.

Die BMW E90 wat gesteel is. Foto: Faren-Ann Hartzenberg/ Facebook

Verskeie pogings om hulp te kry het misluk – selfs ‘n sekuriteitswag by ‘n nabygeleë inkopiesentrum en bure by die huis waar die voorval plaasgevind het, het geweier om in te gryp.

Uiteindelik kon die twee wel die owerhede bereik en het hulle hul by die Philippi-polisiekantoor gaan aanmeld. ‘n Familielid het hulle daar kom haal, volgens Netwerk24.

By hul terugkeer in Klapmuts is ‘n amptelike saak by die plaaslike polisiekantoor geopen.

Sers. Madilyn Dombas, woordvoer-der van die Klapmuts-polisie, asook Cloete het nie op Paarl Post se navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article