Verandering is seker die een konstante aspek van die lewe waarvan niemand kan wegvlug nie en ons geliefde Weskus is vinnig besig om van karakter te verander – sommige plekke vinniger as ander.

In Langebaan, St. Helenabaai en Paternoster skiet nuwe behuisingskomplekse en woonhuise soos paddastoele op.

Of die verouderde infrastruktuur vir riool en water by die verhoogde aanvraag van al die nuwe inwoners kan byhou, is ‘n ingewikkelde uitdaging.

Namate die Weskus groei en uitrek om by al die veranderings te kan bykom, moet die stoere inwoners toekyk hoe ‘n eens stil, rustige gebied in ‘n nywerheidsontwikkelingsnode verander. Mense van oral kom hul “plekkie by die see” opeis – probeer van die malle gejaag van die stad én Gauteng af wegkom.

Die invloei van mense is egter nie nét sleg nie. So raak die gebied ryker aan ‘n groot verskeidenheid professionele mense wat hier kom “aftree”. ‘n Groot gedeelte van die “afgetredenes” is nog jonk genoeg om ‘n waardevolle bydrae tot die Weskus-gemeenskap te lewer. Hul kundigheid kan ‘n verskil maak vir plaaslike liefdadigheidsorganisasies soos die Lethemba Care Project van Louwville.

Hierdie is ‘n beroep op hulle om uit te reik. Die Weskus het julle nodig om nie net die natuurskoon te kom geniet nie, maar ook terug te ploeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article