Die publiek word aangemoedig om korrupsie en afpersing aan te meld.


Die polisie wil afpersing en korrupsie in sy midde uitroei.

Brig. Zukiswa Bavuma, bevelvoerder van die Vredenburg-polisiekluster, wat 10 plaaslike polisiekantore insluit, het haar op ’n onlangse kluster-vergadering sterk teen afpersing, veral deur polisiebeamptes, uitgespreek.

Sy het nie noodwendig verwys na plaaslike gevalle nie, maar haar berisping was eerder ’n waarskuwing dat alle polisiebeamptes in die kluster altyd goeie werksetiek moet handhaaf om hulle sodoende nooit aan enige misdaad skuldig te maak nie.

Nadat vier polisiebeamptes van Khayelitsha se taktiese reaksie-span in Maart op aanklag van afpersing, diefstal en regsverydeling in hegtenis geneem is, is die uitroei van korrupte polisiebeamptes hoog op die Wes-Kaapse polisiediens se agenda.

Kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het ook verlede maand in ’n persverklaring aan die publiek gesê “die polisie sal nie misdadigers in ons geledere duld nie. Elke poging sal aangewend word om van ongewenste individue ontslae te raak.”

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-polisiekluster, vra die gemeenskap om korrupsie te rapporteer.

Sy het aan Weslander verduidelik dat mense soms bang is om afpersing aan te meld omdat die afpersers gewoonlik in ’n magsposisie is en hulle hul slagoffers dreig om “hul lewe vir hulle moeilik te maak”, het Helfrich aan die koerant gesê.

Die publiek word aangemoedig om korrupsie in die polisie by die Staatsdienskommissie se blitslyn aan te meld of by Stop Misdaad SA: 086 001 0111.

Klagtes teen die polisie kan ook aan die Suid-Afrikaanse polisie se nasionale diensklagtesentrum gerig word by complaintsnodalpoint@saps.gov.za of skakel 0800 333 177.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article