Plaaslike polisiebeamptes het verlede week erkenning ontvang vir hul harde en toegewyde pogings om misdaad te bekamp en skuldiges aan die pen te laat ry.
Die Vredenburg-polisiekluster en die Vredendal-polisiekluster het Woensdag 30 Maart ’n waarderingstoekenningseremonie in Citrusdal gehou.
Verskeie lede van die Vredenburg-kluster wat Vredenburg, Langebaan, Saldanha, Laaiplek, Hopefield, St. Helenabaai, Porterville, Piketberg, Eendekuil, Redelinghuys en Aurora insluit, het erkenning by die geleentheid ontvang.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Vredenburg-kluster, is sommige van die kluster se hoogtepunte wat by die geleentheid uitgelig is die plaaslike blitspatrollie se algehele sukses die afgelope boekjaar, asook die erkenning wat gegee is aan verskeie lede in die Vredenburg-kluster vir hulle en hul eenhede se pogings om gewapende verdagtes in hegtenis te neem.
Dit sluit ook in die beslaglegging op vuurwapens en gesteelde eiendom tydens ’n gewapende roof op 8 Julie verlede jaar in Vredenburg.


