Die Weskus is vandeesweek deur die wrede aanval op ’n bejaarde egpaar op hul plaas in die Swartland geruk.
Gerugte het kort daarna die ronde gedoen dat die verdagte glo vir water kom vra en toe gewelddadig geraak het. Wat die werklike motief agter die sinnelose daad is, sal die ondersoek hopelik kan bepaal as dit enigsins antwoorde aan die familie kan bied.
Of armoede enigsins ’n rol hier gespeel het, is irrelevant en nog minder ’n verskoning as “versagtende omstandighede” vir só ’n barbaarse daad. Die feit is dat ons wel sit met ’n reusemaatskaplike probleem wat nie genoegsame aandag kry nie. Al te maklik gooi die sogenaamde “powers that be” op plaaslike en nasionale vlak die hande in die lug wanneer gekla word oor die toename in haweloses as resultaat van armoede. Is dié by magte om besluite te neem, nie net besig om ’n samelewing te kweek wat dit al hoe makliker vir mense maak om by ’n verkeerslig te bedel vir geld en kos as om werk te soek nie? Dis ’n samelewing waar dit sosiaal aanvaarbaar geraak het om jou kind te stuur om namens jou te bedel omdat mense kinders moeiliker wegwys. En ja, Covid-19 het ’n finansiële impak op al wat ’n huishouding is gehad, maar terwyl honderde mense wat hul werk verloor het of wie se inkomste verminder is, aktief begin soek het na maniere om alternatiewe inkomste te genereer of selfs die gebore entrepreneur in hulself ontdek het, trek talle ná twee jaar steeds te gemaklik hul R350 as “troosprys” van dieselfde regering wat jaar op jaar beloftes oor werkskepping maak.

