’n Vliegkaartjie na Europa, ’n bootreis van Kaapstad na Durban, ’n luukse karakoelpelsjas, rolprentkamera én ’n elektriese naaimasjien . . .
Dít was die pryse wat op die spel was vir Huisgenoot se heel eerste wenner van die destydse “Mej. Tienderjare”-kompetisie. En Hanneke Engelbrecht (18) van Pretoria het daardie jaar met die kroon en karakoeljas weggestap.
Jare gelede het Huisgenoot elke paar jaar ’n Mej. Tiener aangewys en tienermeisies van oor die land heen het ingeskryf, met die hoop om as Huisgenoot se mooiste tiener gekroon te word. Die kompetisie is die eerste keer in 1962 gehou. Dit is nou ’n paar dekades later en vanjaar is dié kompetisie terug.
Huisgenoot is op soek na ’n rolmodel vir ’n nuwe geslag. En omdat tye verander, het die kompetisie se formaat ook verander – deelnemers moet nou digitaal inskryf en boonop hul vaardighede op sosiale media wys deur ’n kreatiewe TikTok-video te maak.
“Ons is baie opgewonde om dié ikoniese kompetisie ná al die jare weer aan te bied,” sê Yvonne Beyers, Huisgenoot se redakteur. “Daar is so baie talentvolle, kreatiewe tienermeisies in Suid-Afrika – elkeen mooi en slim op haar eie manier.
Ons kan nie wag om te sien wie vanjaar met die titel gaan wegstap nie,” sê sy.
Huisgenoot se Mej. Tiener 2024 is gemaklik met wie sy is – sy is mooi van buite én binne. Sy het deernis vir ander en hoop vir die toekoms. Sy droom nie net nie – sy is ’n doener en maak ’n verskil op haar eie manier.
Tienermeisies tussen die ouderdom van 13 en 18 kan inskryf en die kans geniet om ’n vakansie vir haar en haar gesin in Mauritius te wen – asook ’n geldprys van R10 000.
Hoe werk dit?
Deelnemers kan net aanlyn op Huisgenoot se spesiale Mej. Tiener-kompetisieblad inskryf.
Hulle moet hul ouers of wettige voog se toestemming hê om vir die kompetisie in te skryf en om die nodige stappe vir hul inskrywing te volg.
Hulle moet dan ’n foto van hulself op die kompetisieblad oplaai, die besonderhede invul en ’n kort motivering skryf.
As deel van hul inskrywing moet hulle Huisgenoot op TikTok gaan volg en ’n kreatiewe video verfilm waarin hulle meer oor hulself vertel. Hulle moet @Huisgenoot tag en #HGMejTiener2024 by die video gebruik sodat die Huisgenoot-paneel die video’s kan vind.
Inskrywings vir die kompetisie sluit op 29 Februarie 2024 om 17:00. Deelnemers se video’s moet ook teen dié datum reeds op TikTok wees.
Tien finaliste sal dan deur die Huisgenoot-paneel aangewys word, waarna die TikTok-video’s van die finaliste op die kompetisieblad en op huisgenoot.com gedeel word. Die publiek kan op Huisgenoot se spesiale aanlyn Mej. Tiener-kompetisieblad vir hul gunstelinge stem.
Dan is dit tyd om die wenner aan te wys in Huisgenoot en op huisgenoot.com.
Groot pryse is op die spel
. Die 10 finaliste van die Mej. Tiener-kompetisie wen elkeen twee botteltjies parfuumolie, ’n notaboek en drasak van Tapputi Egyptian Perfume Oils.. Die wenner stap weg met ’n vakansie vir haar en haar gesin in Mauritius, geborg deur World Leisure Holidays.. Haar verhaal sal in Huisgenoot verskyn, met haar inlasfoto op Huisgenoot se voorblad. Haar verhaal sal ook verskyn op huisgenoot.com en op Huisgenoot se sosiale media.. Mej. Tiener sal as model op Huisgenoot se modeblaaie pryk. Sy sal as ’n gasaanbieder in ’n program op die VIA-televisiekanaal verskyn.. Sy wen ’n pryspakket van Tapputi Egyptian Perfume Oils, wat vyf botteltjies parfuumolie, notaboeke en drasakke insluit. Sy kan ook genooi word om as model in bemarkingsmateriaal vir dié handelsnaam te verskyn.. En dan stap Mej. Tiener 2024 ook met R10 000 weg.. Besoek bit.ly/mejtiener of stuur ’n e-pos aan Charlea Sieberhagen-Grey by charlea.grey@huisgenoot.com vir nog inligting.



