Die heropening van die Porterville-polisie se slagofferberadingskamer is deur verskeie polisie-hoës en belangrike gaste bygewoon.


“Kom gesels in ’n veilige en private omgewing oor jou traumatiese ervaring.”

Die slagofferberadingskamer van die Porterville-polisie is Donderdag (19 Januarie) amptelik tydens ’n spesiale seremonie heropen.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, is die doel van dié fasiliteit om ’n spesiale diens aan die gemeenskap te lewer.

“Hierdie diens is vir lede van die publiek wat die slagoffer van misdaad is,” het Helfrich verduidelik.

Nie net bied hierdie diens slagoffers die geleentheid om in privaatheid aangehoor te word nie, maar hulle word ook emosioneel ondersteun en bemoedig.

“Hoewel die polisie nie self enige beradingsdienste verskaf nie, word verskeie verwysings deur middel van hierdie fasiliteit gemaak na onder andere die hof, die departement van maatskaplike dienste, die Departement Korrektiewe Dienste en verskeie mediese dienste.”

Slagofferberadingskamers, wat geen kentekens van die polisie buite op die gebou vertoon nie, word by elke polisiekantoor in die land aangetref.

Die kamer is 24 uur van die dag oop en die gemeenskap word aangemoedig om hier vir hulp te kom aanklop.

Gevoelloosheid, vrees, hulpeloosheid en woede is emosies wat dikwels deur slagoffers van misdaad ervaar word.

“Moenie alleen swaarkry nie, daar is hulp,” sê Helfrich.

Lt.kol Ilse Lesch, die Porterville-polisie se bevelvoerder, het by die heropeningsgeleentheid die klem daarop geplaas dat die plaaslike polisie hulle daarop ywer om ’n waardige diens aan die gemeenskap van Porterville te lewer.

Die heropening is deur verskeie polisie-hoës en belangrike gaste bygewoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article