Lede van die Vredendal-polisie het verlede week in twee afsonderlike gevalle op tik en Mandrax afgekom met ‘n geraamde straatwaarde van altesaam R1 miljoen.
Heinrich Witbooi (41) en Arnold Syster (39) is Woensdag 25 Februarie die oggend omstreeks 01:25 by ‘n perseel in Phola Park in Vredendal in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het die polisie inligting opgevolg en op die perseel toegslaan.
Toe hulle by die perseel opdaag, het die verdagtes buite gestaan met ‘n blou sak tussen hulle.
Met hul toestemming is die sak deursoek en is 8 038 Mandrax-tablette, 33 halwe tablette en 0.727 g tik in die sak ontdek. Die geraamde straatwaarde van die dwelms is R403 550.
Albei beskuldigdes het reeds Woensdag in die hof in Vredendal verskyn op aanklagte van dwelmhandel.
In ‘n onverwante voorval die vorige dag (Dinsdag 24 Februarie) is Jean-Pierre Sauls (27) in Vredendal in hegtenis geneem vir beweerde dwelmhandel nadat onwettige dwelms by hom gekry is.
Sauls is omstreeks 07:30 in Malvastraat in hegtenis geneem nadat polisielede hom met ‘n sak sien loop het.
Die polisiebeamptes het Sauls genader en sy sak deursoek, waarin tik gevind is.
Nadat sy perseel in Malvastraat verder deursoek is, is Mandrax-tablette gevind.
Die gekonfiskeerde tik en Mandrax-tablette het ‘n geraamde straatwaarde van sowat R612 850.
Sauls het Woensdag 25 Februarie in die Vredendal-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van dwelmhandel. Die ondersoek duur voort.






