Hofsake | In Court
Hofsake | In Court

Die nege sakemanne en ‘n sakevrou van Paternoster, Velddrif, Wellington en Kaapstad wat tereg staan op aanklagte van meer as R300 miljoen se bedrog, asook oortredings van onder meer die Maatskappywet, het Vrydag 13 Februarie weer vlugtig in die Vredenburg-distrikshof verskyn.

Die saak is uitgestel sodat die klagstaat gefinaliseer en moontlik gewysig kan word. Die staat oorweeg dit ook om nóg aanklagte by te voeg en moet besluit oor ‘n moontlike kuratorskapaansoek vir een van die beskuldigdes.

Kobus Pienaar (69), André Eigelaar (75), Johan Eigelaar (70), Carel Mienie (56), Meiring Tarrant (55), Minette Louw (44), Albert Marais (68), Petrus Marais, Bennie Lubbe en Nico Latsky staan saam met verskeie maatskappye tereg. Volgens die staat het dié entiteite na bewering die beweerde markmanipulasie gelei.

Die nuwe staatsaanklaer, senior staatsadvokaat Thersia du Toit-Smit, het die dossier sedert November deeglik bestudeer en bevestig dat die klagstaat gewysig sal word. Sy het aangedui dat verdere aanklagte moontlik ingevolge Artikel 34 van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite oorweeg word.

Artikel 34 plaas ‘n wetlike plig op mense in gesagsposisies om korrupsie van R100 000 of meer by die polisie aan te meld. Versuim om dit te doen is self ‘n misdryf. Die beskuldigdes het nou tot einde April om redes in te dien waarom hulle nie die beweerde korrupsie aangemeld het nie. Die NVG sal daarna besluit of dié klagtes bygevoeg word.

Vertoë is ook namens Minette Louw en PKF Kaapstad ontvang. Intussen het Johan Eigelaar se regspan mediese rekords aan die staat oorhandig, asook ‘n aansoek om hom onder kuratorskap te plaas. Die staat moet nou oorweeg of waarneming aangevra moet word om te bepaal of hy die verrigtinge kan verstaan.

Die beskuldigdes word reeds deur ‘n lang lys aanklagte in die gesig gestaar, insluitend bedrog, oortredings van die Maatskappywet en die Wet op Finansiële Markte, regsverydeling en in sommige gevalle diefstal. Die staat voer aan dat aandeelpryse oor bykans 13 jaar gemanipuleer is en dat minderheidsaandeelhouers sowat R300 miljoen verloor het.

Adv. Leon van der Merwe het namens die beskuldigdes verskyn. Hul borgtog van R10 000 bly van krag. Die saak is tot Vrydag 15 Mei uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article