Abbotsdale het sy voorbereiding vir die 2026-Grootuitdaagliga met nóg ‘n oorwinning voortgesit toe hy St. Helenbaai oortuigend geklop het.
Die span het reeds vroeër Hopefield en Paternoster in vriendskaplike wedstryde getroef – ‘n duidelike aanduiding dat die Lillies gereed is vir ‘n mededingende seisoen.
Die wedstryd teen St. Helenbaai het teen ‘n massiewe tempo begin. Dit was uit die staanspoor duidelik dat al twee spanne gekom het om aanvallende rugby te speel. Lillies was vinnig uit die blokke en het twee vinnige drieë gedruk om ‘n vroeë 14-0-voorsprong te neem.
St. Helenbaai het egter nie gaan lê nie en sterk teruggeveg om die telling tot 14-12 te verklein. Daarna het Abbotsdale behoorlik die krane oopgedraai en die wedstryd met kliniese afronding uiteindelik met 38-12 beklink.
Drieë is ingeryg deur Laricko Visagie, Dowan Mahoney, Rheinhardt Adonis, Thorne Lategan en Wiam Syster, terwyl ‘n strafdrie ook aan Abbotsdale toegeken is.
Abbotsdale speel hierdie Saterdag teen Hillcrest in hul laaste opwarmings-
wedstryd voordat die span aan die jaarlikse Mayrol Cup in Moorreesburg deelneem. Die ligawedstryde skop op Saterdag 7 Maart af.





