Ronnie Grace by sy Ford Mustang GT. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

Op 85 behoort ‘n mens stadiger te beweeg, maar nie Ronnie Grace van Langebaan nie. Inwoners sien hom drie keer per week in die rustige strate teen ‘n gemaklike pas draf, asof die jare geen houvas op hom het nie.

Ronnie hardloop nie vir prestasie of kompetisie nie – hy hardloop bloot vir die eenvoudige vreugde daarvan.

“Ek hardloop al vir 55 jaar en hoop om op 90 nog te kan hardloop,” vertel hy met ‘n vriendelike glimlag.

Elke Maandag, Woensdag en Vrydag voltooi hy sy 5kmroete; dankbaar vir die gesondheid wat hom steeds dra.

Ronnie is op 27 Maart 1940 in Epping gebore. Toe hy nege jaar oud was, het sy familie na die Wingfield- militêre basis verhuis, waar sy pa in die SA Lugmag gedien het. Later het hulle hul in Thornton gevestig – die plek waar hy sy vrou, June, ontmoet en waar hul lewe saam begin het.

Ronnie Grace by sy Ford Mustang GT. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz

Hulle het twee kinders grootgemaak ‘n seun, wat vandag in Engeland woon, en ‘n dogter, wat in Brackenfell woon.

Ronnie praat met diep teerheid oor June, aan wie hy 58 jaar lank getrou was. Sy het aan demensie gely en is verlede jaar oorlede – ‘n verlies wat hy sagkens en eerbiedig dra. Sy herinneringe aan haar verklap ‘n man wie se liefde hom sy lewe lank gevorm het.

Ronnie het 27 jaar gelede – ná ‘n lang loopbaan as rekenmeester by Kaapstad se stadstessouriers-afdeling – afgetree.

Hy en June het in 1999 na Langebaan verhuis – ‘n besluit waarvoor hy eindeloos dankbaar is.

“Dit was die gelukkigste jare van my lewe,” sê hy.

Ronnie se liefde vir die lewe is egter nie net draf nie. Sy hart klop net so sterk vir veteraan- en klassieke motors – ‘n passie wat hom sy hele lewe lank vergesel het.

Sy eerste ou motor was ‘n 1960- Austin A40 Farina, die voertuig wat hom in die 1980’s by sy eerste oumotorklub ingelei het.

Sy pragtige 1958-Pontiac was wyd bekend in die Wes-Kaap, net soos sy drie Austin Sevens. Hy het jare lank as die Wes-Kaapse verteenwoordiger van die Austin Seven-klub van Suid-Afrika gedien.Vir Ronnie is ou motors nie net metaal en ‘n enjin nie – dit is stories, ervarings en herinneringe.

“Behalwe vir my hardloop, is dit die ou motors wat my jonk hou,” sê hy skalks.

En so natuurlik soos hy hardloop en motors liefhet, skryf hy ook. Ronnie is die trotse skrywer van vyf boeke, elk gevul met nostalgie, wysheid en sy kenmerkende liefde vir mense en masjiene:

• Previously Disadvantaged but White (outobiografie)

• Lost in the Caves

• Dads and their Cars of the West Coast

• Living with a Loved-One with Dementia, en

• Short Car-Related Stories, sy nuutste bundel vol verhale oor motors wat hy besit, herstel en soms selfs begrawe het.

“Die boek is geskryf uit my liefde vir ou motors,” sê hy.

“Dit is ‘n lekker lees vir enige entoesias van veteraan- of klassieke motors.”

Vandag geniet Ronnie die rustige leefstyl van die Langebaan aftree-oord, waar hy elke dag dankbaar is vir sy goeie gesondheid.

“Ek is geseënd,” sê hy.

“Daar is baie inwoners jonger as ek wat sukkel met gesondheid. Ek besef hoe gelukkig ek is.”

Ronnie Grace is jonk van gees, sterk van wil, ‘n man wie se liefde vir sy familie, sy hardloopskoene, sy klassieke motors en sy boeke hom dag ná dag vorentoe laat beweeg.

Boeke wat Ronnie Grace geskryf het. Foto: Letitia Van Zyl-Schultz.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article