Steeds met die bebloede pantoffels waarmee sy geskok moes toekyk hoe die polisie die lyk van haar man van die afgelope elf jaar en die pa van haar twee kinders verwyder, het ’n bedroefde Adel Basson (35) van Saldanha Dinsdag hartverskeurend vertel hoe die tragedie hom afgespeel het.
Christo Basson (36) het Dinsdag (25 Junie) in die vroeë oggendure op die sypaadjie voor die Laerskool Saldanha gesterf nadat twee onbekende mans die egpaar aangerand en beroof het.
Die Bassons het van hul huis in die Lane na die BP-vulstasie se deurnagwinkel gestap om sigarette te gaan koop.
“Net verby die kragboks voor die laerskool het ek so effens voor Christo gestap. ’n Man met krukke het ons gevolg – so een meter weg. Die volgende oomblik het Christo gegil: ‘Adel, daar slaan hy my nou!’ ”
Die man het nie ophou slaan tot Christo op die grond beland het nie. Adel het een van die krukke gegryp en die aanvaller daarmee geslaan om haar man te beskerm.
Sy het gesien hoe ’n ander man vanuit Eerstelaan aangehardloop kom en vir ’n oomblik nog gedink hy gaan hulle help, maar dié man het ’n mes uitgepluk.
Die twee aanvallers het hulle aandag nou op Adel gevestig terwyl Christo probeer opstaan het.
“Die man met die mes het my handsak se band afgesny en dit gegryp.”
Adel se hand is in die proses raakgesny. Sy moes later steke kry.
Die rowers het in Minetokastraat op weggehardloop, waarop Adel vir Christo gesê het sy sal solank na die vulstasie toe hardloop om hulp te gaan ontbied; hy moet huis toe hardloop.
Die vulstasie is straataf van die kragboks af sigbaar.
Adel het met haar bloeiende hand gehardloop en by die vulstasie gevra dat die polisie gebel word.
Die polisie het haar na die polisiekantoor toe geneem waar sy gevra het dat hulle haar man by die huis moet gaan sê dat sy veilig is.
Hulle het hom egter nie by die huis by hul kinders, Christo (9) en Chris-Jaunel (14), gekry nie, maar inmekaargesak op die sypaadjie voor die skool, ’n ent van waar die rooftog plaasgevind het.
Hy het verskeie wonde gehad en noodpersoneel het hom behandel.
Adel is aanvanklik ingelig dat Christo nog lewe en na die hospitaal vervoer sou word, maar moes later hoor dat hy “dit nie gemaak het nie”.
Sy het aangedring om na die moordtoneel te gaan, maar was agterna spyt daaroor. “Ek moes nooit gaan kyk het nie. Hy het met oop oë daar gelê,” het sy tussen die trane deur gesê.
Sy het gesien dat daar ook bloed op die oorkantste sypaadjie was. “Daar was orals bloed – plasse bloed.”
Adel sal vir altyd wonder of die twee rowers dan teruggekom het om seker te maak dat hulle Christo doodmaak, want die bloedspatsels op die oorkantste sypaadjie maak glad nie vir haar sin nie, tensy Christo verder om sy lewe moes geveg het.
Haar hart word in twee geskeur omdat sy hom daar “gelos” het om hulp te gaan soek.
Die polisie het later die dag die Bassons se identiteitsboekies en ’n bos sleutels op die strand opgetel, maar Adel se beursie, geld en bankkaarte is steeds weg.
Buurtwaglede het glo net ná die voorval gesien hoe twee mans, wat by Adel se beskrywing pas, verbyhardloop. Hulle kon hulle egter nie opspoor nie.
Christo het ’n lewe gemaak deur houtmeubels en ander houtwerk te doen. Hy het ook gereeld vir ’n vriend by sy onderneming gewerk.
Die egpaar, wat nie ’n motor het nie, is gereeld gesien waar hulle saam stap.
Adel onthou bedroef hoe lieflik die vorige dag vir die gesin was. “Ons het Vredenburg rooi gaan verf.”
Hulle sou Dinsdag weer dorp toe gaan om klere vir die kinders te gaan koop.
Christo was Adel se beste maat. “Hy was so spontaan en ’n bok vir sports. Maak nie saak waardeur ons gegaan het nie – hy het altyd die lig in die lewe gesien. Hy was die rots in die huis; ons steunpilaar. Ek weet nie wat ek sonder hom gaan maak nie. Hy was my alles; hy was ’n awesome mens.”
Die Bassons het as tieners op ’n kerkkamp in die Kaap ontmoet. Hy was in die Hoërskool Tygerberg en sy in die Hoërskool President. Hulle het in 2009 na Saldanha verhuis en is in 2013 getroud.
Die polisie ondersoek ’n saak van moord en roof.
Geen begrafnisreëlings kan gemaak word alvorens die lykskouing om die amptelike oorsaak van dood te bepaal, nie afgehandel is nie.




