Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op ’n 36-jarige pa van Saldanha.

Christo Basson is dood nadat hy Dinsdag 25 Junie in die vroeë oggendure op die sypaadjie voor die Laerskool Saldanha verskeie kere met ’n mes gesteek is.

Clinton Joernaal (27) en Devlon Murray (24) het Vrydag 26 Julie in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklag van moord en roof. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek en sal weer op 29 Augustus in die hof voortgaan.

Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisie, is Joernaal as 20-jarige tien jaar tronkstraf opgelê vir die moord op sy broer André Joernaal (32) op 15 Desember 2017. Joernaal het sy broer gedurende ’n rusie met ’n mes doodgesteek. Vier jaar van die tienjaarvonnis is opgeskort vir vyf jaar en hy is vermoedelik in 2023 op parool vrygelaat.

Basson en sy vrou, Adel (35), het na die BP-vulstasie se deurnagwinkel gestap om sigarette te gaan koop toe hulle deur vermoedelik die beskuldigdes aangeval en beroof is. Christo is op die toneel dood en Adel moes steke in haar hand kry.

Die polisie het later die dag die Bassons se identiteitsboekies en ’n bos sleutels op die strand opgetel, maar Adel se beursie, geld en bankkaarte word steeds vermis.

’n Gedenkdiens is Vrydag 26 Julie in die NG kerk Saldanha vir Christo gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article