Onderburgemeester van Saldanhabaai-munisipaliteit neem tydelik waar in warm stoel

Saldanhabaai-munisipaliteit.
Saldanhabaai-munisipaliteit.

’n Tussenverkiesing sal in wyk 5 van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) gehou moet word ná André Truter, die uitvoerende burgemeester, se uittrede Saterdag 31 Januarie.

Charmaine Laubscher, onderburgemeester, sal ingevolge die Wet op Munisipale Strukture (Nr. 117 van 1998) as burgemeester waarneem. Dié wet definieer die stigting, funksies en kiesstelsels van munisipaliteite, en bepaal dat die onderburgemeester outomaties as burgemeester waarneem in sy afwesigheid of indien sy amp ontruim word, soos nou gebeur het.

Charmaine Laubscher, waarnemende burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit.

Tot wanneer Laubscher sal instaan, is nog nie bekend nie, maar volgens ingeligtes kan sy as burgemeester dien tot die munisipale verkiesings later vanjaar.

Omdat Truter ook die wyksraadslid van wyk 5 was, sal ’n tussenverkiesing dus in dié wyk gehou moet word. Dit neem tyd omdat die proses onder meer behels dat geskikte partykandidate eers deur die onderskeie partye aangewys moet word. Dié wyk beslaan Jacobsbaai tot teen Saldanha se buitewyke.

Ingeligtes in DA-kringe hou vol dat dié skuif nie weens binnegevegte of politiekery plaasgevind het nie, maar hoofsaaklik vanweë ’n geleentheid in die privaat sektor wat vir Truter oopgegaan het en wat hy nie van die hand kon wys nie.

Truter het dit aan Weslander bevestig en gesê sy besluit om te bedank was sonder twyfel een van die grootste en moeilikste besluite van sy loopbaan tot dusver.

André Truter in sy amptelike rol as burgemeester.

Hy het verduidelik dat, alhoewel hy by ’n internasionale maatskappy gaan werk, gerugte dat hy oorsee gaan verhuis of werk foutief is. “Ek trek nêrens nie en gaan die meeste van my tyd steeds binne die Saldanhabaai-munisipale regsgebied deurbring,” het hy gesê.

Oor die aard van sy nuwe rol het Truter aangedui dat die betrokke maatskappy binne die volgende paar dae ’n formele aankondiging sal maak. Hy het egter beklemtoon hy gaan nie die gebied verlaat nie en sy verbintenis bly tot die streek staan. “Saldanha is in my DNA,” het hy gesê en bygevoeg dat hy steeds sal poog om die gemeenskap te dien, maar vanuit ’n ander rol in die privaat sektor.

Terugskouend op sy tyd as burgemeester, beskryf Truter die ervaring as een wat hom op ’n diep persoonlike vlak geraak het. Hy glo sy menswees sal nooit weer dieselfde wees nie, maar in die beste moontlike sin. “Die mees spesiale oomblikke van my loopbaan was om met mense op voetsoolvlak te skakel – van Middelpos tot Myburgpark en alles tussenin. Om in mense se lief en leed te deel, was my grootste inspirasie om elke dag beter te doen,” het hy gesê.

Vir die inwoners van die Saldanhabaai-munisipale gebied wens Truter ’n toekoms van groei en vooruitgang toe. Hy glo die gebied is gereed om nuwe hoogtes te bereik en dat beduidende internasionale beleggings in die toekoms kan instroom. “Ek glo vas ons het die regte span om dit te bestuur,” het hy bygevoeg.

Wanneer dit kom by hoe hy onthou wil word, is Truter se wens eenvoudig. Hy hoop mense sal sê hy was ’n mensemens en iemand wat werklik vir alle inwoners van die munisipale gebied omgegee het.

Tertuis Simmers, die DA se Wes-Kaapse leier, het tydens die aankondiging verlede week gesê Truter het die munisipaliteit sedert 2018 bedien. Hy het wyk 5 met 85% van die stemme gewen en is later as lid van die burgemeesterskomitee aangestel. Hy is in 2021 as burgemeester verkies.

Simmers het hom bedank vir sy toewyding, harde werk en die handhawing van die beginsels en waardes van die DA. Volgens Truter sien hy met opgewondenheid uit na die volgende hoofstuk in sy lewe.

Wat inwoners wil sien in die volgende burgemeester

Verskeie inwoners van die Saldanhabaai-munisipaliteit het in ‘n meningsopname op Weslander se Facebook-blad gedeel watter eienskappe hulle in ’n burgemeester verwag. Hulle sê onder meer die nuwe burgemeester moet eerlik, regverdig en toeganklik wees en ‘n opregte liefde vir die gemeenskap hê.

“’n Uitdaging vir wie ook al in sy skoene stap: wees eerlik teenoor die gemeenskap en wees nederig. Ek wil net byvoeg dat die gestremdes en pensioenarisse ook sekere dienste benodig. Verbind tot skoon regering, geen verdraagsaamheid vir korrupsie, en leierskap wat die mense dien – nie persoonlike of partybelange nie. Prioritiseer basiese dienste, openbare veiligheid, infrastruktuuronderhoud en plaaslike ekonomiese ontwikkeling,” – Flash WC Perfume

“’n Roeping om vir die gemeenskap te werk. Dit moet in sy/haar hart wees, nie net ’n politieke agenda nie. Werk vir ALLE lede van die gemeenskap en wees aktief betrokke, selfs wanneer die kameras nie rol nie,” – Justine Bishop

“OF the people, BY the people and FOR the people!” – David O’Neill

“Luister na jou inwoners, en moenie ’n vinger in die pie hê met groot kontrakteurs nie,” – Lourika Moller

“Eerlikheid, vertrouenswaardig en ’n soliede geloof,” – Antoinette Spangenberg

“Om op al die dorpe in die munisipaliteit te konsentreer en aandag te gee,” – Vera Du Toit

“Luister na jou inwoners,” – Andick Engelbrecht

“Sigbaarheid. Werk met mense ongeag die ras. Wees daar om te dien, nie vir die geld nie. Elke gemeenskap se belange en behoeftes op die hart hê,” – Jayson Jantjies

“Burgemeester moet self ’n belastingbetaler in die munisipale area wees, nie net ’n verbyganger wat hier is vir salaris en huurhuis nie,” – Wade Theron

“Luister na almal en probeer almal se klagtes opvolg, en na almal se behoeftes omsien. Kry alle inwoners se samewerking,” – Riëtte Kohn

“Integriteit en eerlikheid, empatie en mensekennis, verantwoordbaarheid,” – Etienne Schut

“Sigbaarheid, deernis, kom beloftes na,” – Irma Reinette De Klerk

“Volg op by elke persoonlike klagte i.v.m. dienste wat betaal word en doen iets,” – Sakkie Joubert

“Keep vulnerable communities safe. Get rid of crime. Be hands-op and available to everyone and not the elite few,” – Derrick Smith

“Eerlikheid, regverdigheid, opregtheid. Elke dorp se belange op sy hart dra en nie net een of twee dorpe nie,” – Lee-anne Williams

“Eerlikheid, geloof en integriteit,” – Andre de Villiers

“Hou by sy woord… ja is ja, nee is nee. Dien die gemeenskap, nie die geld nie. Boven alles, dien God opreg,” – Carina Bester

“Mensekennis. Kyk dat alles instand gehou word. Kyk na alle groepe en bou vorentoe met goeie beplanning,” – Njanet Coetzee

“Werksetiek, eerlikheid en die vermoë om mag en geld te hanteer,” – Kobie Nieuwenhuis

“Eerlikheid en moenie wakker word voordat daar ’n verkiesing is nie,” – Alkie en Sus Bester

“Toeganklikheid, integriteit, deursigtigheid,” – Neil Williams

“Dienslewering, ontwortel korrupsie, finansieel sterk munisipaliteit. Werk vir die mense en nie jou eie sak nie. Geen belasting, tariewe of heffings vir persone bo 60 wat nie meer werk nie of medies ongeskik is nie,” – Johan de Beer

“Sien om na die belange van die mense. Hou jou uit die politiek uit. Wees eerlik en opreg. ’n Burgemeester dien sy mense en is nie veronderstel om ’n politieke kandidaat te wees nie,” – Eric Prins

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article