’n Halfeeu van bloed, sweet en trane, kophou, aanpas en skaterlag.
Terwyl die span by Weslander die afgelope week hard gewerk het om ’n spesiale bylaag saam te stel wat ’n oorsig gee van 50 jaar as gemeenskapskoerant aan die Weskus, is ons telkemale oorval met ’n gevoel van heimwee.
Soos oudkollegas hul herinneringe aan die beginjare van die koerant onthou, het ons keer op keer onsself ingeleef in die dae toe daar letterlik gespoeg en geplak is om die koerant vir lesers (en adverteerders) saam te stel.
Ons deel 50 jaar se lief en leed, groei en teleurstelling waarin elke personeellid wat oor die vyf dekades deur Weslander se deure gestap het, saam met sy lesers en adverteerders, gedeel het. Altesaam 50 jaar van onherkenbare veranderings – die oorskakeling van platpers na rolpers, die bekendstelling van digitale kameras en meer onlangs, die intree van digitale media – om net ’n paar te noem. Alles wat, ten spyte van onsekerheid, steeds met groot oorgawe aangepak en suksesvol uitgevoer is.
Ons hoop soos jy deur die blaaie van die bylaag blaai, jy saam met ons op reis deur die afgelope 50 jaar sal gaan en die stories sal geniet, soos vertel deur oudkollegas, maar ook Weskussers wat hul eie herinneringe van ’n leeftyd aan die Weskus herroep.
Die toewyding van al ons voorgangers wat hul hart en siel in hierdie koerant ingesit het, bruis steeds in Weslander se gange. Dankie dat julle vir ons die pad vooruit geteer het. Ons salueer julle met ’n heildronk op 50 jaar se besondere nalatenskap!



