Hierdie vuurwapens en swaarde is in ’n groen munisipale vullisdrom gevind.Foto:


Skielik het hy in die loop van ’n vuurwapen vasgekyk.

Maar André Steenkamp, ’n lid van die Saldanha-buurtwag het kopgehou. Hy wou by die gewapende boosdoener weet waar hy die groen munisipale vullisdrom gekry het?

’n Paar minute van te vore het Steenkamp op die man afgekom waar hy besig was om dié wieletjiesdrom, waarop Van Spilbergstraat geskryf staan, in Weselstraat, Saldanha te stoot.

Volgens AO. Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie het die voorval Donderdag (17 November) net ná 16:00 gebeur.

Nadat Steenkamp die man oor die vullisdrom gekonfronteer het, het hy ’n vuurwapen uitgepluk en Steenkamp daarmee gedreig.

Die man met die wapen het egter ná ’n kort woordewisseling gevlug maar die groen drom agtergelaat.

Steenkamp het Wayne Killian, ook van die buurtwag, wat in die omgewing bly gebel wat dadelik die verdagte gaan soek het.

Hy het die verdagte ingehaal, maar dié het hom ook met die vuurwapen gedreig.

Die verdagte het uiteindelik daarin geslaag om te vlug.

Terwyl die konfrontasie met die gewapende verdagte en jaagtog ontvou het, is ’n inwoner van Van Spilbergstraat deur sy gewapende reaksie-maatskappy in kennis gestel dat die alarm by sy huis geaktiveer is terwyl hy nie tuis was nie.

Met nadere ondersoek het die polisie en veiligheidsmaatskappy bepaal dat die motorhuis se deur oopgedwing is om toegang tot die woning te kry. Verskeie vuurwapens, ammunisie, twee Samurai-swaarde, ’n panga, klere, selfone, ’n kamera, oorfone, luidsprekers en ander elektroniese ware is uit die huis geneem.

Kotze sê die gesteelde goedere en die wapens se waarde is R300 000. Dit is later in die groen vullisdrom ontdek wat die gewapende verdagte agtergelaat het.

Kotze het die buurtwaglede geloof vir hul flinke optrede en samewerking met die polisie om gesteelde goedere en gevaarlike wapens uit die verkeerde hande te hou.

Die polisie vra die publiek om asseblief na vore te kom met inligting wat moontlik tot die inhegtenisname van die skuldige kan lei.

Skakel gerus 022 714 833. Inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article