Kan ek net sê, 'n rubriek deur Sonja Kruger
Kan ek net sê, ‘n rubriek deur Sonja Kruger

Om iemand aan sy skoene te oordeel, werk nie altyd nie.

As ons ophou oordeel, sal ons waarlik begin sien en innerlike vreugde ervaar.

Ons is so geneig om ander se modes na te streef en ander se grille en giere as die nuwe norm te aanvaar, dat ons soms onsself verloor.

Wanneer het dit so belangrik geword om in ander se boksies te pas dat ons eerder ‘n nuwe motor sal koop as om in ‘n eie woning te belê, want mense moet jou tog net nie in ‘n ou skedonk sien ry nie?

Oor 20 jaar gaan jy steeds moet huur en het die mense vir wie jy wou beïndruk lankal van jou met jou fancy nuwe motor vergeet.

Eerder as om te wonder watter myle daai ou paar skoene al geloop het, sien ons te vinnig neer op mense wie se skoene bietjie afgeloop is of nie in die “in”-boksie geplaas kan word nie.

Dalk het daai ou paar skoene vandag by die sopkombuis gestaan en broodjies uitdeel, of dalk het dit geloop en werk soek om vanaand vir hul gesin by die huis kos op die tafel te sit.

As ons dalk vir net een dag in iemand anders se skoene kan staan, sal ons mense anders behandel.

Elkeen het sy eie storie – met nuwe of ou skoene – om te vertel.

Ons lewe in ‘n wêreld waar voorkoms waarde gee of wegneem. As jy mooi of netjies aangetrek is, glimlag mense vir jou. As jy uitgewas en moeg voorkom, kyk mense anderpad.

As jy ‘n status-werk het, skuif jy outomaties na bo op die leer en word jy met ander oë gesien en benader.

Toe ek op laerskool was, was verjaar­dagpartyjies ‘n plaatkoek en 2l-koeldrank en die maatjies was die kinders in die buurt.

Vandag moet jy kers vashou by die nuutste tema, gewildste partytjieplek en duurste geskenk, wat jou ‘n plaas se geld kos sodat jou kind nie in die “armsalige” boksie geplaas word nie.

‘n Paar weke gelede sien ek ‘n pos wat geadverteer word, maar die vereiste is om jou CV per hand af te gee. Oordeel ons nou al so ooglopend?

Jou CV met jou ondervinding behoort mos die eerste stap te wees wat jou vertel of die aansoeker werksondervinding het met die relevante verwysings wat gebel kan word.

Hoe lank die persoon by ‘n maatskappy werk en of hy elke tweede jaar by ‘n ander maatskappy gewerk het, behoort eerste na gekyk te word.

Die aansoeker se voorkoms en motor waarmee hy by jou maatskappy opdaag om sy CV af te gee, gaan nie vir jou vertel hoe bekwaam hy of sy die werk kan doen nie.

Ons wêreld is vasgevang in uiterlike voorkoms en pretensies oor wat ander mense wil sien of hoor, want as jy dalk nie in ander se boksies pas nie, sal jy nie raak- gesien word nie.

Ons vergeet dat die mense wat saak maak, nie beïndruk word deur status, jou duur huis of motor nie, maar belangstel in jou tyd en teenwoordigheid.

Sukses en geld beteken niks as jy dit nie saam met jou familie kan doen nie.

Ons moet ‘n voorbeeld vir ons kinders wees om hulle te leer om nie so maklik te oordeel nie. Laat hulle weet daar is meer as iemand se uiterlike dop.

So sal hulle weet dis aanvaarbaar om anders te wees, want ons is elkeen uniek op ons eie manier.

Ons het nie nodig om in ander se boksies te pas, duur klere te hê of fancy motors te ry om ons waarde te bepaal nie.

In ‘n wêreld waar jy altyd aangejaag word om meer te wees, kies eerder om stadiger te beweeg.

Kies om jou tyd saam met die regte mense deur te bring – mense wat daar is vir jou as ‘n mens en nie vir wat jy het of doen vir ‘n lewe nie.

Jou waarde lê nie in jou skoene nie, maar wel in die spore wat jy trap. Hou jou kop omhoog en weet wie jy is.
Moenie jouself prysgee om kers vas te hou by ander mense nie. Geen prysklas kan jou waarde as mens bepaal nie.

Jy is jou eie spesiale weergawe van jouself – daardie een-in-‘n miljoen “limited edition” wat niemand anders kan wees nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article