Die Suid-Afrikaanse wynbedryf moet voorberei vir nog ’n moeilike jaar, met die plaaslike en internasionale klimate wat steeds baie onsekerheid veroorsaak.

Sprekers by die 17de Nedbank Vinpro-inligtingsdag met die tema “Connect & Grow”, wat op 19 Januarie by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou is, was eerlik oor die dringende ekonomiese en landbou-realiteite wat die wynbedryf tans in die gesig staar, terwyl deelnemers aangemoedig is om hul verhoudings te benut ten einde die huidige werklikheid te versag.

Nagenoeg 600 wynbedryfkundiges het die geleentheid bygewoon, wat vir die 16de agtereenvolgende jaar deur Nedbank geborg is.

“Dit is drie lang jare sedert die bedryf persoonlik op hierdie skaal kon byeenkom en as ek een ding in hierdie tyd geleer het, is dit beslis dat daar geen sekerheid in hierdie wêreld is nie,” sê Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, terwyl hy die noodsaaklikheid van mede-eienaarskap beklemtoon.

In aansluiting by Smuts besin Nedbank se uitvoerende hoof van handelsbankdienste, Herman de Kock, dat niks meer as vanselfsprekend aanvaar kan word nie – veral nie geleenthede vir aansluiting nie.

“Ons glo dat dit as ’n bank nie net oor die finansiële bydrae gaan nie – dit gaan oor die verbintenis met die bedryf om sektorgroei te help fasiliteer,” sê hy.

Besigheidsbestuur in onrustige ekonomie

Die Nedbank-ekonoom Isaac Matshego het ’n somber prentjie van Suid-Afrika se post-pandemiese ekonomie geskets, met beide dalende beleggings en vinnig stygende werkloosheid.

“Ons is tans in die ergste afswaai in ons geskiedenis,” sê hy, en beklemtoon dat hierdie “die langste en diepste afswaai is, met die swakste begin van die dekade in die onlangse geskiedenis”.

Volgehoue herstel is moeilik weens globale sowel as veral plaaslike omstandighede en sal verder vertraag word deur voortdurende kragonderbrekings.

“Dit wil voorkom asof fase 6-beurtkrag die norm vir 2023 sal wees. Ons het hierdie fase vanjaar meer as enige ander fase beleef. Die selftoegediende skade van beurtkrag aan die ekonomie sal beteken dat ons die internasionale beleggings wat van die wêreldwye ekonomiese opswaai in 2024 verwag word, kan misloop.

“Belegging bly swak weens lae sakevertroue. In vergelyking met ons eweknieë in die ontluikende mark het Suid-Afrika se inflasiekoers egter nie so vinnig opgeskiet nie en bly die Reserwebank daartoe verbind om inflasie te bestuur,” sluit Matshego af.

Wen in wyn

“Dit is tyd om die storm te bestuur wat ons as ’n bedryf in die gesig staar,” sê Vinpro-bestuurshoof, Rico Basson.

“Ons word gekniehalter deur politieke ideologieë wat nie uitkomsgebaseerd is nie, beperkte aanspreeklikheid aanvaar en geen dringendheid het nie – en dit in ’n tyd waarin ons wêreldwye mededingers baie meer aggressief is in hul uitvoering.”

Die afgelope drie jaar het krisis op krisis opgelewer. Die wynbedryf moet stabiliteit binne die ontwrigting van die plaaslike en globale handel skep omdat dít die toekoms van Suid-Afrikaanse wyn bedreig.

“Ons gaan aanhou om ons mededingendheid te verloor as ons nie nóú optree nie,” sê Basson.

“Premiumisering is die sleutel tot ons herstel as bedryf, gegewe die groot kostedruk op wynkeldervlak en die realiteit dat nie alle bykomende koste deur die mark geabsorbeer sal kan word nie.

“Kostestygings op keldervlak sal ’n delikate balans moet wees.”

Na aanleiding van ’n bedryfstrategie, finansierings- en ondersteuningsdienste-hersieningsproses, sê Basson die bedryf beoog om die storie van Suid-Afrikaanse wyn te verander deur soveel moontlik bedryfsdienste onder ’n enkele sambreel, bekend as SA Wine NPC, te konsolideer.

Doelwitte van SA Wine sluit in die skepping van een stem vir die bedryf met die koördinering van alle aktiwiteite rondom ’n eenvormige bedryfstrategie, met een punt van aanspreeklikheid wat aan sy algehele strategie voldoen.

Kleiner wyndruifoes, talle uitdagings

Die 2023-oes sal na verwagting aansienlik kleiner as vorige jare wees met verskeie faktore wat tot die vierde laagste oes in die afgelope 17 jaar gelei het.

“Hoewel daar voldoende besproeiing ná die oes in 2022 was ten spyte van laer damvlakke, het produsente voortgesette besproeiingsdruk met beurtkrag ondervind,” sê Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro-konsultasiedienste.

“Bykomende infrastruktuurkoste vir permanente en mobiele dieselopwekkers was ook ’n harde werklikheid wat baie produsente in die gesig gestaar het.”

Droë en warm toestande gedurende die groeiseisoen het verdere druk bygevoeg, gesien in die ontwrigting van veraison (begin van die rypwording van die druiwe) en sonbrandskade. Haelskade in sommige streke en wind in ander, tesame met ’n toename in donsskimmel in die algemeen, dra by tot die druk wat produsente reeds ervaar. Bykomende arbeid, asook spuit- en dieselkoste om bogenoemde toestande te versag, het ’n baie duur seisoen tot gevolg gehad.

“Die enigste positiewe uit hierdie seisoen is dat ons ons ondernemings met bekwame wynbedryfpersoneel kan en moet verbind, aangesien maatskappye beter in verbintenis presteer.”

Moontlikhede in oorvloed in VK

Siobhan Thompson, voorsitter van Wines of South Africa (WoSA), sê behoefte moet met die fokus op beperkte hulpbronne bestuur word om die vennootskappe wat reeds met sleutelmarkte soos die Verenigde Koninkryk gebou is, te benut om waardegerigte groei te bewerkstellig.

Thompson beklemtoon waardegroei bo volumegroei en sê die vordering met die premiumisering van Suid-Afrikaanse wyn in die VK het ’n goeie beeld van SA wyne geskep, al kan ons nie altyd ons wyne by die mark uitkry nie.

“Wees trots, maar nie selfvoldaan nie,” sê David Cartwright van Seckford UK.

“Suid-Afrikaanse wyn in die VK het die afgelope sewe jaar drasties in volume en waarde gegroei. Met vertroue en deursigtigheid is dit belangrik om te weet wat in die mark gebeur en die kennis met jou klante te deel.”

In aansluiting by Basson en Thompson se voorstelle vir die premiumisering van Suid-Afrikaanse wyn, is Cartwright optimisties.

“Daar is vele geleenthede in die £10-plus-kategorie vir groei, aangesien dit tans slegs 1,7% van die markaandeel beslaan, ondanks die feit dat dit die grootste groei-area vir Suid-Afrika is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article