Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie:
In ‘n teenmisdaadoptrede in Lutzville die afgelope naweek het die polisie ‘n 47-jarige man in hegtenis geneem nadat hulle op inligting gereageer het oor dwelms wat vervoer word. Die verdagte is in Koekenaap in hegtenis geneem nadat hy probeer vlug het. Owerhede het 900 Mandrax-tablette, 13 g Mandrax-poeier en 2 g kristalmetamfetamien gekonfiskeer, met ‘n geraamde straatwaarde van R46 130. Hy sal na verwagting in die Vredendal-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van dwelms.
Anthony de Bruin (42) is Sondagaand (1 Maart) in Epnaarsingel, Eikevlei, in Klawer met ‘n mes in die bors en rug gesteek. Sy aanvaller is aangekeer en sal eersdaags in die Klawer-landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Gideon Mentor (24) is Sondagoggend (1 Maart) omstreeks 06:15 op die R311 Riebeek-pad naby Moorreesburg gekry nadat ‘n voertuig hom getref het. Die motor het weggejaag. Mentor is op die toneel oorlede. Die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare mansslag.
Twee boerbokke is oor die naweek van ‘n plaas in die Elandsbaai-omgewing gesteel. Die een bok is sommer op die plaas geslag. Die polisie ondersoek die saak.




