Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, ‘n distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie.
Porterville – Aldean le Roux (47) is Saterdag (21 Februarie) by die Voorberg-gevangenis aangekeer nadat haar sakke deurgesoek is. Sy het na bewering probeer om 17 selfone en 0,842 kg dagga by die tronk in te smokkel. Le Roux het Maandag in die landdroshof verskyn.
Porterville – ‘n 42-jarige man is Vrydagaand (20 Februarie) van agter met ‘n bierbottel oor die kop aangerand. Hy het geval en sy bewussyn verloor. Toe die slagoffer wakker word, was daar ‘n gordel om sy nek en ‘n plastieksak oor sy kop en sy mond was vol grond. Hy is herhaaldelik aangerand en het weer sy bewussyn verloor. Die aanvallers het met sy R300 gevlug en hom net daar gelos. ‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.
Malmesbury – ‘n Man van 23 jaar oud is Sater-dagaand (21 Februarie) om 23:15 in sy linkerskouer in Chatsworth geskiet en om 23:45 dieselfde aand is ‘n 26-jarige man in Abbotsdale in die maag en been geskiet. Twee sake van poging tot moord word ondersoek.
Vanrhynsdorp – Pedro Flink (26) en Booi Hendricks (43) het Maandag (23 Februarie) op aanklag van veediefstal in die landdroshof verskyn nadat hulle na bewering tussen Vrydag en Saterdag ‘n skaap op ‘n plaas in die Vanrhynsdorp-omgewing gevang en net daar geslag het.
Lutzville – Mervin Afrika (35) is aangekeer nadat hy verlede Woensdag (18 Februarie) ‘n skaap met ‘n spies gegooi en die skaap beseer het. Hy het Maandag (23 Februarie) in die hof verskyn.
Velddrif – Navada Witbooi (27) is op Laaiplek aangekeer nadat hy sy 46-jarige ma na bewering op Vrydag 13 Februarie met die vuis in die gesig en op die kop geslaan het. Hy het Maandag (23 Februarie) in die Laaiplek-landdroshof verskyn.
Klawer – Kathleen Fortuin (51), ‘n familielid van ‘n 71-jarige man, het hom na bewering op Donderdag 19 Februarie met kookwater gegooi. Sy wou glo nie die slagoffer se persoonlike dokumente oorhandig nie. Fortuin het reeds op Vrydag 20 Februarie in die landdroshof op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer verskyn.
Malmesbury – Op Sunday evening (22 February) Khauhelo Moji (29) of Malmesbury was found dead with a knife wound to his neck. The motive for the murder and the circumstances surrounding it are being investigated.




