Wyle Deneilsen Rossouw saam met sy dogtertjie, Nuraan Don.

Die skielike dood van en beweerde moord op Deneilsen Rossouw (24) het die gemeenskap van Louwville geruk.

Die voorval het die afgelope Saterdag (1 November) plaasgevind toe Deneilsen sy jonger broer gaan haal het waar hy gekuier het. Soos sy familie verduidelik, het die voorval op die hoek van 4de Laan en Kootjieskloofstraat in Louwville ge- beur. Deneilsen het glo sy broer teen sy aanvallers, wat ook gaste by die partytjie was, verdedig.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n woordvoerder vir die Weskus-polisie-distrik, is Deneilsen Saterdagaand om 23:00 in die Vredenburg- provinsiale hospitaal met ‘n meswond in die nek opgeneem. “Hy het in die hospitaal gesterf en twee verdagtes is in hegtenis geneem.”

Sy ma, Loui-Ann Rossouw, vertel met die nuus van die voorval was sy histeries, geskok en buite haarself. “Ek kan nie eens onthou wie die nuus vir my kom breek het nie. Ek het tot by die toneel gegaan en hulle het hom in die ambulans gehad en alles probeer. Dit was ‘n groot skok vir my en ek vra myself – hoekom op so ‘n manier?”

Deneilsen Rossouw (24) is in die soveelste mesmoord die afgelope paar maande in Vredenburg doodgesteek.

Loui-Ann meen haar seun was baie beskermend teenoor sy broers en susters, en daarom was dit geen verrassing dat hy sy broer verdedig het nie, wat tragies tot sy dood gelei het.
“Ek is na die hospitaal en het heelpad tot daar gebid en gevra dat die Here saam met hom moet wees en hom moet bewaar, maar ons tyd is mos nou nie God se tyd nie. As die Here dit so wou gehad het, moet ons dit maar net so aanvaar.”

Loui-Ann sê haar seun was haar staatmaker, geliefd deur baie en versrkilkik lief vir sy kind, sy dogtertjie, Nuraan. Sy ouma, Elizabeth Muller, sê sy is ‘n ouma van 15 kleinkinders en elkeen van hulle is baie spesiaal vir haar. Sy beskryf Deneilsen as ‘n mense-mens met ‘n groot hart en iemand wat lief was vir geselsies aanknoop en grappe maak.

“Ek woon in Atlantis en vandat ek hier in Vredenburg aangekom het, kan ek nie byhou met hoeveel mense ons al kom besoek het nie. Die mense wat hier kom, sê vir my watter soort mens hy was. Hy het vir homself ‘n pad oopgeloop; sy naam het vir hom vooruitgeloop met positiwiteit.”

Die raadslid Theresa Rossouw, wat Deneilsen van skooltyd af ken, sê hy was ‘n stil, sorgsame en vriendelike leerder.

“Ons kon altyd op sy behulpsame geaardheid staatmaak. Hy het sy ouers geëer, respek vir almal gehad en was baie geliefd. My hart het uit my bors gespring toe ek die kennisgewing lees en ek en my seun, Michael, is albei hartseer oor hierdie tragedie. Hy sal gemis word, en sy dood is ‘n verskriklike tragedie. Ek vertrou . . .  dat Denielsen geregtigheid sal kry. Ek sal Denielsen altyd onthou as een van my sterre – ‘n jong man wat my wêreld ‘n beter plek en my lewe soveel ryker gemaak het.”

Norman van Wyk, ‘n gemeenskapsaktivis in Witteklip, sê wanneer gesoek word na vrede, laat ‘n wrede moord op ‘n jong man dit lyk asof alle hoop in die samelewing verlore is.

“Ons bid, vas, voer programme uit, maar maand ná maand swig ons jongmense voor brutaliteit. Wat anders kan ons doen as om aan te hou hoop dat daardie instellings wat gesweer het om ons burgers te beskerm, hul beloftes sal nakom? As gemeenskappe deel ons in die hartseer en pyn wat Deneilsen se familie op hierdie oomblik ervaar. Ons is bedroef dat nog ‘n jong man se lewe ontydig uit ons samelewing geruk is.”

Die verdagtes – Angelo van Wyk (20) en Enrico Visagie (30) – het Dinsdag (4 November) aanklag van moord in die Vredenburg-landdroshof op verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article