Wanneer jy eers self ‘n ma is, besef jy die waarde van opdaag. Wanneer jou grootste ondersteuner nie meer daar is om jou te ondersteun of aan te moedig nie, staan jy onder daardie rugbypale, of jy nou natgereën is of skroei van die hitte.
Jy daag nie net op vir jou kind nie, maar ook vir jou eie hart wat weet – ek is hier waar dit saak maak.
Om kinders groot te maak, kom nie met ‘n handleiding nie en is dit maar meestal trial and error totdat jy dit uitgefigure het.
Dis nie net om hulle aan die lewe te hou nie, maar om hulle op die regte pad te hou, hulle te leer hoe om krisisse te hanteer en om goeie waardes te hê; om ‘n goed opgevoede kind vir die samelewing groot te maak, sodat hy of sy eendag self ‘n sterk fondament vir hul eie gesin sal hê.
Dis soveel moeiliker sonder ‘n ma wat altyd net ‘n oproep weg is – met antwoorde en raad wat jou dra.
Daar is niemand om ‘n ekstra hand te bied wanneer kinders siek is nie of net te fluister: “Jy vaar goed, jy sal hierdeur kom”; niemand om jou moed in te praat net voordat jy die kraamsaal binnegestoot word nie.
En dan, wanneer jy jou baba vashou, tref dit jou: Jy staan alleen voor hierdie nuwe lewe, en jy wonder waar jy die wysheid en krag vandaan gaan kry.
Ons was onlangs by ‘n prysuitdeling waarby ‘n ouma erkenning gekry het vir haar aandeel aan hul kleinkinders se sport.
Ek kon nie help om te wonder hoe hard my ma sou gejuig het nie; hoe sy elke oomblik sou geniet het net om deel te kon wees nie, om nie eens te praat van Moedersdag, Kersfees of verjaarsdae nie.
My ma het maande vooruit begin beplan, spyskaarte uitgedink, lysies begin maak. Van die kerkklokke wat “Stille Nag” speel tot die ry om Kersliggies te kyk, was als deel van ons tradisie – kleinighede, as ek nou terugdink, maar as dit al is wat jy het, is dit die kosbaarste herinneringe wat jy ooit sal hê.
Dae soos Moedersdag is seker die aakligste dag vir enige mens sonder ‘n ma.
Vroue-oggende of spesiale ma-en-dogter- temas word gehou. Jy moet vir dié spesiale dag saam met jou eie dogter opgewonde wees, maar as jy om jou kyk, sien jy hoeveel ma’s is nog so bevoorreg om hul eie ma’s daar te hê. Van hulle het selfs nog hul oumas.
Dis ‘n leemte wat jou amper soos ‘n weeskind laat voel.
My pa gebruik gereeld die sê-ding: Al is jy tussen 1 000 mense – as jy alleen is, is jy alleen.
Ek verkyk my dan altyd aan die ma’s en dogters en wens dat ek ook nog daardie voorreg kon gehad het, en wonder of dié ma’s weet hoe bevoorreg hulle is om nog hul ma’s by hulle te hê.
Daar is ook so baie geregte wat my ma gemaak het wat ek nooit geleer het hoe om te maak nie, want die tyd het ons ingehaal.
Net ‘n ma kan sekere geregte maak, al probeer jy hoe hard. Dis net asof daardie special touch kort. My ma was nie ‘n wafferse bakster nie, maar as die flops ook nie meer daar is nie, mis jy tot die flops.
Om vandag ‘n ma te wees, is nie maklik nie. Maar om dit te wees sonder die leiding en teenwoordigheid van jou eie ma, laat jou anders na alles kyk. Jy leer om die klein oomblikke te waardeer – dinge wat ander miskien nooit eens opmerk nie, want jy weet hoe dit voel om sonder dit te leef.
As jy gelukkig genoeg is om vandag nog jou ma te hê, hou haar styf vas. Skryf die resepte neer, luister na die stories en bou voort op die tradisies – want eendag, wanneer dit al is wat jy oor het om oor te dra, sal jy besef dis juis die herinneringe wat jou en jou kinders vashou.





