Gesinne en families word aangemoedig om vermiste persone aan te meld. Foto ter illustrasie: Unsplash

Vermiste persone is ‘n ernstige kwessie. Dit laat families emosioneel, bang en angstig voel. Maar wat doen ‘n mens wanneer iemand bloot vir dae verdwyn, sonder enige kommunikasie met hul geliefdes? Hierdie is ‘n tendens wat dikwels onder jonk en oud voorkom en kan ‘n frustrerende tydperk vir gesinne en families wees.

Die situasie lei daartoe dat gesins- en familielede op sosiale media uitreik en selfs soektogte van stapel stuur wat die gemeenskap en soms nooddienste betrek.

Volgens Claudia de Koker, ‘n inwoner van Vredenburg, is dit ‘n groot probleem dat kinders besluit om weg te loop sonder enige bekommernis en sodoende die gemeenskap op hol te jaag. De Koker verduidelik egter dat daar verskeie redes vir sulke optrede kan wees.

“Ons leef in ‘n siek samelewing waar ons nie weet hoe om hierdie euwels te beveg nie. Dat jonk en oud tot die punt gekom het waar hulle net vir ‘n paar dae wegloop en families in paniek laat. Ons hardloop ook te vinnig na sosiale media toe. Elke vermiste persoon se tyd is krities en ons moet aksie neem, maar mense moet meer verantwoordelik optree sodat die regte bronne nie tyd mors nie,” sê sy.

Nog ‘n inwoner van Vredenburg, wat anoniem wil bly, sê dat kinders wat “vermis” raak eintlik onverantwoordelik optree.

“Hoekom sê ek so? Want wanneer jy van die huis af weggaan, moet kinders hul ouers laat weet waarheen hulle gaan. Vandag is die tendens dat kinders nie omgee of bekommerd is oor sulke kwessies nie. Ouers stres verskriklik en daardie kind is gerus.”

Die inwoner meen ouers moet ook beheer neem oor hul kinders en dat die rol van ouer en kind soms binne huishoudings omgeruil word. “Vir my begin alles by die huis. Die Bybel sê dat ons oor kinders aangestel is, so die Here het hulle in ons sorg geplaas, nie ons as ouers in hul sorg nie.”

Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, sê inwoners moet dadelik ‘n saak van ‘n vermiste persoon by die polisiestasie aanhangig maak en ‘n amptelike SAPD 55A-vorm invul sodat die regte prosedures te alle tye gevolg kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article