Weslander het op 12 Februarie só oor dié beseerde hondjie berig, wat met haar hartseer oë in Hoofstraat, Vredenburg, gevind is. Foto: Noluvu Ludidi

Die dispuut oor wie verantwoordelikheid moet neem wanneer dit by rondloperhonde en -katte kom, is ‘n groot gesprek op die Weskus.

‘n Voorval is op Maandag 9 Februarie aangemeld waar ‘n hondjie in die vroeë oggendure beseer in Hoofstraat, Vredenburg, aangetref is.

Chris Venter, ‘n inwoner van Vredenburg, het op die WhatsApp-boodskap oor die hond gereageer en sê ‘n debat het tussen die dierebeskermingsvereniging (DBV) en wetstoepassing ontstaan oor wie die verantwoordelikheid dra wanneer dit by die hond kom. Ná ‘n lang wagtyd en gesukkel tussen die twee organisasies het twee mense van die Wesland-dierehospitaal uiteindelik tot haar redding gekom.

Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, is die mandaat van munisipale wetstoepassing of gemagtigde personeel om verdwaalde diere in beslag te neem en vas te trek. “Die munisipaliteit kontrakteer plaaslike dierewelsynsorganisasies, soos die DBV, om stalle te bestuur en sorg te verskaf.”

Louise van Zyl, ‘n DBV-bestuurder, meen alle diere in openbare ruimtes en strate val onder die mandaat van wetstoepassing. “Hulle is verantwoordelik om hierdie diere op te laai en na die munisipale skut te neem.

“As ‘n reël moet wetstoepassing gekontak word wanneer ‘n dier in die straat aangemeld word en, indien nodig, sal hulle die DBV kontak vir verdere bystand.”

Inwoners meen diere moet met dieselfde respek en integriteit as mense behandel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article