‘n Hond word in ‘n eetplek met ‘n kolwyntjie bederf. Foto: Sebastian Coman | Unsplash

Die debat oor die toelating van honde by restaurante in Velddrif het die afgelope weke sterk reaksie uitgelok nadat ‘n bestaande voedselveiligheidsregulasie nou aktief toegepas word.

Volgens ‘n verklaring van die Velddrif-sakekamer het inwoners en sake-eienaars hul kommer uitgespreek oor die toepassing van ‘n jare lange regulasie wat honde in eetareas binne sowel as buite verbied.

Die Sakekamer erken dat hy aanvanklik oor die kwessie stilgebly het.

“Daardie stilte was nie onverskilligheid nie. Dit was ‘n doelbewuste besluit om eers verantwoordelik met die owerhede in gesprek te tree, feite in te samel en seker te maak dat die volgende stappe prakties, wettig en in die beste belang van ons plaaslike ekonomie en gemeenskap is,” lui ‘n verklaring van Johnny da Silva, voorsitter.

Velddrif en die breër Weskus lok jaarliks groot getalle vakansiegangers, waarvan baie hul honde saambring. Vir talle besoekers vorm troeteldiervriendelike restaurante en buite-areas deel van die vakansie-ervaring. Verskeie inwoners meen hierdie kultuur dra by tot die dorp se ontspanne, gemeenskapsgeoriënteerde karakter.

Terselfdertyd wys ander inwoners daarop dat higiëne en voedselveiligheid nie in gedrang mag kom nie, veral in ruimtes waar kos voorberei en bedien word.

Die betrokke regulasie, wat deel van nasionale voedselveiligheidsmaatreëls vorm, word nou strenger toegepas nadat ‘n klag ontvang is.

Restaurante en voedselverwante ondernemings is in kennis gestel dat inspeksies en kennisgewings voortgesit sal word.

Die regulasies het ten doel om besoedelingsrisiko’s te beperk in areas waar voedsel hanteer, voorberei, verwerk of bedien word. ‘n Wettige uitsondering geld vir opgeleide gidshonde of dienshonde wat persone met gestremdhede bystaan. Emosionele ondersteuningsdiere word egter nie noodwendig onder dieselfde kategorie erken nie.

Sedert die kwessie na vore gekom het, het die Sakekamer openbare insette ingewin en na uiteenlopende perspektiewe van sake-eienaars, inwoners en besoekers geluister.

Daar is ook regstreeks met die distriksmunisipaliteit in gesprek getree, wat volgens die Sakekamer konstruktief verloop het.

Volgens Da Silva is die praktiese impak op restaurante deeglik bespreek, insluitend hoe die regulasie toegepas word en watter uitdagings dit vir ondernemings inhou.

Die Sakekamer werk aan ‘n aksieplan wat op plaaslike en provinsiale vlak verder gevoer sal word, met die doel om te verseker dat plaaslike ondernemings nie onnodig belemmer word nie, terwyl wetlike vereistes steeds nagekom word.

Velddrif se gasvryheids- en toe- risme-ekonomie is grootliks gebou op ‘n verwelkomende atmosfeer. Tog beklemtoon die Sakekamer dat voedselveiligheidsregulasies bestaan om openbare gesondheid te beskerm en dat ondernemings ernstige gevolge in die gesig kan staar indien hulle nie daaraan voldoen nie.

“Die doel is nie om reëls te beveg of spanning aan te blaas nie, maar om werkbare oplossings te vind wat beide openbare gesondheid en lewensbestaan beskerm,” het Da Silva gesê.

Die Sakekamer se benadering fokus op drie kernprioriteite:

Nakoming en duidelikheid

Ondernemings het sekerheid nodig oor wat toelaatbaar is en wat nie.

Billikheid en uitvoerbaarheid

Die uitleg van restaurante, buite-areas en praktyke in ander dorpe moet in ag geneem word.

Ekonomiese volhoubaarheid

Plaaslike handel moet nie buitensporig benadeel word waar wettige en redelike alternatiewe ondersoek kan word nie.

Die plan en voorleggings word tans gefinaliseer en sal ook op provinsiale vlak bespreek word. Dit sluit in die ondersoek na moontlike opsies binne die bestaande regulatoriese raamwerk, met sensitiwiteit vir ‘n klein kusdorpie wat grootliks op gasvryheid én toerisme staatmaak.

Die Sakekamer doen ‘n beroep op inwoners en besoekers om die gesprek met respek te voer.

Die onderwerp raak mense op verskillende wyses. Sommige plaas die klem op higiëne en veiligheid, terwyl ander waarde heg aan ‘n troeteldiervriendelike leefstyl wat deel geword het van Velddrif en die Weskus se vakansiekultuur.

“Daar is ruimte vir beide sienings. Ons rol is om te help verseker dat besluite verantwoordelik benader word, sonder om ons dorp se ekonomiese welstand te benadeel.”

Verdere verwikkelinge en riglyne sal met die publiek gedeel word soos dit ontvou.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article