Slegs twee dae ná haar seun se verjaarsdag moes Maud Talmakkies die werklikheid in die gesig staar dat hy nie meer met haar is nie.
Kaalvoet en al is Talmakkies na die toneel op die hoek van Kwartelstraat, Witteklip, waar haar seun, May-Hilton Links (36), op Maandag 3 November in ‘n skietvoorval noodlottig gewond is.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distriks- woordvoerder vir die Weskus-polisie, het die skiertry om 23:45 plaasgevind.Talmakkies sê haar seun het die huis omstreeks 17:30 verlaat. Hy was na vriende toe en sy het rustig op sy terugkeer gewag.
“Toe ek op die toneel kom, het ek net gebid dat die Here my kind nog ‘n kans kan gee sodat hy net ‘n woord of twee nog met my kan praat en moontlik ook deel wie hom geskiet het. Om hom so te sien lê, was moeilik om te verwerk. Hy was my enigste seun – my oudste; my eerste blom.”
Dié ma van vyf het reeds twee van haar kinders aan die dood verloor en die dood van nog een is onbeskryflike seer. Met trane in haar oë sê Talmakkies dit was nie nodig dat haar seun so seergemaak moes word nie.
“Ek weet nie wie so iets kon doen nie. Hy het nooit moeilikheid na my huis toe gebring nie en was ‘n goeie kind. Ek vermoed dit moes iemand wees wat hom geken het. Ek gaan sy lag en grappies en gelukkige tye wat ek saam met hom deurgebring het, mis. Ek het die skieter reeds vergewe. Ek kan nie met die haat in my hart rondloop nie.”
• Nog ‘n mesdoodvoorval het Donderdag 6 November omstreeks 21:10 in Molopostraat, Witteklip, plaasgevind, waar Jackwille Lackey (32) aan sy wonde beswyk het. ‘n 40-jarige man het reeds Maandag (10 November) in die Vredenburg-landdroshof op ‘n aanklag van moord verskyn.
‘n 29-jarige man is op dieselfde dag weens Lackey se dood aangerand. Vriende van Lackey verduidelik die verkeerde man is glo aangerand. Volgens Helfrich is hy deur drie mans in Buffelstraat, Witteklip, met ‘n byl en panga aangeval. Die aanvallers het gedink hy is die oortreder by ‘n ander ernstige misdaad en is verkeerdelik deur ander mense geïdentifiseer.
Vredenburg-moordpogings:
• ’n Vyftigjarige man het die afgelope Maandag (10 November) in die Vredenburg-landdroshof verskyn nadat hy verlede Maandagaand (3 November) glo ‘n 20 jarige man met ‘n mes gesteek het. Die klaer het veelvoudige wonde opgedoen. Verskeie skote is dieselfde aand na die 20-jarige klaer en sy vriende in Tiptolstraat in Witteklip afgevuur.
• ’n 35-jarige vrou is verlede Woensdag (5 November) om 02:55 by haar woning in Ongegund twee keer in die boud geskiet.





