Toe Trudie Marais haar diagnose hoor, was haar eerste gedagte dat dit ’n doodsvonnis is.
In die lig van Mei as lupus-bewusmakingsmaand, deel Sophia Marais haar storie met Weslander.
Systemic Lupus Erythematosus (SLE), ’n siekte waarvan sy nog nie vantevore gehoor het en glad nie geweet het nie, is in 2009 by dié inwoner van Saldanhabaai gediagnoseer.
Die siekte is eers ná vele toetse deur haar dokter en ’n spesialis in Newcastle amptelik by Marais gediagnoseer.
SLE is ’n outo-immuunsiekte wat die immuunstelsel aanval. Dit kan die vel, gewrigte, niere en meer affekteer.
Marais vertel as kind was sy altyd baie sieklik. “As ek kindersiektes gekry het, was dit altyd erger as my sibbe, en die hersteltyd het altyd langer geduur,” vertel sy.
Op ’n manier was daar al vroeë tekens en simptome wat haar liggaam begin aantas het. “Ek was van jongs af baie gevoelig vir die son en het altyd blase gebrand, wat lelike vlekke op my vel veroorsaak het. So, ek kon nie as tiener altyd saam met my vriende gaan ‘tan’ nie, want ek sou baie siek word.”
Ná haar diagnose het Marais haarself meer bekend gemaak met die siekte. Alles oor haar simptome het sin gemaak. “Om lupus te behandel, verg verskillende soorte behandeling, en een daarvan is kortisoon in baie hoë dosisse saam met pynmedikasie, en jy moet oor jou geestesgesondheid waak.”
Marais het in 2020 op ’n ondersteuningsgroep vir mense met lupus afgekom. Die groep heet West Coast Lupus Warriors en sy het besluit om by die groep aan te sluit. “Dit het vir my so baie beteken en ek het deur die lupus-Weskus-groep ook ander met lupus leer ken, en nou kan ons mekaar moed inpraat. Ek het ook Una van Rhyn van Andrea’s Gift Foundation, wat absoluut ’n steunpilaar vir die groep is, ontmoet.”
Marais het met haar diagnose en alles wat daarmee gepaard gaan aan die begin van 2022 besluit om haar lewenstyl te verander en ’n gesonder lewe te begin lei. “Ek het begin gewig verloor, my medikasie is aangepas en ek het my brein begin besig hou deur altyd te probeer baklei teen daai stemmetjie wat sê ek moet gaan lê.”
Marais werk elke dag en hou goeie moed. Sy “luister” ook na haar liggaam en sy beperkings. Sy voeg by dat haar man, Marius, haar grootste steunpilaar is en haar in alles bystaan en help.
Marais se wens vir mense wat met hierdie onbekende siekte saamleef, is dat meer gedoen moet word om meer mense, wat nes sy verlore was en nie geweet het wat om te doen nie, te betrek en te leer. Marais wil mense bemoedig dat hulle hierdeur kan kom en dat dit nié ’n doodsvonnis is nie.
Om by die West Coast Warriors aan te sluit, kontak Bridgette Makan by 078 013 7545 of stuur ’n Whatsapp-boodskap aan Marais by 079 880 9624.




