Ná 40 jaar in die onderwys was dit tyd vir Frederick Frans, skoolhoof van Steynville Sekondêr, om die leisels neer te lê en af te tree.
Frans het ná meer as vier jaar as waarnemende hoof by dié skool in 2025 amptelik die leisels as skoolhoof oorgeneem.
Frans se liefde vir onderwys het baie vroeg in sy lewe begin. Hy was as kind reeds lief daarvoor om skool-skool te speel.
“Ek het gou besef daar is iets besonders daaraan om te sien hoe iemand se oë oopgaan wanneer hulle iets nuuts verstaan of leer.
“Toe ek self op skool was, was daar onderwysers wat ‘n ongelooflike groot indruk op my gemaak het, nie net deur wat hulle ons geleer het nie, maar hulle omgegee.
“Hulle het my laat voel dat ek raakgesien word, en dit het my geïnspireer om dieselfde vir ander kinders te doen,” deel Frans met Weslander.
Met die jare het hierdie aanvanklike belangstelling vir Frans ‘n roeping geword.
“Onderwys het vir my meer geword as net ‘n beroep. Dit het ‘n manier geword om ‘n verskil te maak in mense se lewens, om hoop te gee, en om ons jongmense te help glo in hulself en hul toekoms.”
Dit is ook die interaksie met die leer- ders wat Frans die meeste gaan mis. Hy meen as skoolhoof en as leerkrag bring elke dag nuwe uitdagings, maar ook nuwe vreugdes.
Frans sê hy gaan ook die personeel mis, al die geselsies, die ondersteuning, die lag en selfs die moeilike gesprekke wat hulle so dikwels nader aan mekaar gebring het.
“Onderwys is nooit ‘n alleenpad nie; dit is altyd’n spanpoging.
“Maar bo alles gaan ek die gevoel mis dat ek deel was van iets groter, dat ek elke dag ‘n klein bydrae kon maak tot die vorming van die volgende generasie. Dit is ‘n voorreg wat ‘n mens nie ligtelik opneem nie,” sê hy.
Frans moedig die leerders aan om in hulself te glo.
“Julle almal het die potensiaal om suksesvol te wees. Dit vra net self dissipline, volgehoue harde werk en opoffering,” sê hy bemoedigend.
“Om deel te kon wees van die karaktervorming van Steynville Sekondêr se leerders oor die afgelope 40 jaar was vir my ‘n groot voorreg.
“Julle het my nie net as onderwyser gevorm nie, maar ook as mens. Elke kind wat die afgelope 40 jaar deur Steynville Sekondêre Skool gegaan het, het ‘n deel van my kom word.
“Julle sal altyd ‘n spesiale plek in my hart behou, en ek sal dit altyd koester,” sê Frans.
Hy bedank ook sy kollegas vir hul ondersteuning, harde werk en toewyding. Sy advies aan toekomstige onderwysers is eenvoudg.
“As jy nie ‘n passie het vir mense nie, gaan die pad moeilik wees. Wees
geduldig, nie net met die kinders nie, maar ook met jouself. Jy gaan nie alles van dag een af regkry nie, en dit is reg so.
“Moet nooit ophou leer nie.
“Laastens, aan alle opvoeders, onthou altyd julle werk met die kosbaarste skat in die koninkryk van ons Skepper.
“Onderrig hulle met liefde en deernis, en hulle sal lief raak vir jou vak en vir jou as opvoeder, en hulle sal presteer in jou vak.”





