‘n Video van ‘n leerder van die Hoërskool Weston het woede onder baie mense veroorsaak.
Die video is wyd en syd gedeel en wys hoe die leerder ‘n onderwyser van die skool minag en tart.Video’s en kommentare op sosiale media het ook die ronde gedoen waarin mense hul ongemak en verwerping van hierdie gedrag uitgespreek het.
Ouers meen daar is al meer ‘n toename in boeliegedrag onder leerders en teenoor onderwysers. Volgens Lescha Casper van Witteklip is die inhoud van die video heeltemal disrespekvol. “Die vrou in die video probeer haar werk doen, maar hy ontwrig die hele klas. Ons sukkel reeds met ‘n boeliegees in ons skole. Dit is onregverdig, want ons ander kinders wil leer en kan dit nie doen nie. Ons as ouers moet met ons kinders praat; ons kan nie hierdie soort gedrag duld nie en ons kan ons ook nie verlekker in wie se kind dit is nie. Ander kinders se opvoeding is in die gedrang.”
Nog ‘n inwoner van Vredenburg het gesê dit is baie hartseer dat hierdie soort gedrag in skole plaasvind. “Jare terug het dit glad nie gebeur nie; leerders het respek gehad vir hul ouers, grootmense oor die algemeen en vir hul onderwysers. Wat het daarvan geword en wat gaan van ons land word as dit so aangaan? “Deesdae kan onderwysers nie meer aksie neem nie, want dan word hulle as die skuldige beskou.”
Lena Waterboer van Louwville en ook die ouer van ‘n matrikulant by die skool se mening is dat alles by die huis begin. “Hoe meer tyd ouers met hul kinders deurbring, hoe beter sal die lewe wees. Dit maak nie saak hoe oud die kind is nie. My dogter is vanjaar in matriek, maar ek bring nog baie tyd saam met haar deur en ons praat gedurig met haar oor respek toon. Kinders gaan skool toe om te leer en nie disrespekvol te wees nie. Ek leer haar ook liefdadigheid begin in die huis en dan by jouself.”
Volgens Millicent Merton, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het die leerder die skool se gedragskode oortree en is hy geskors hangende ‘n formele tugverhoor. “Die tugkomitee sal oor die gegewe bewyse beraadslaag. Indien hy aan ernstige wangedrag skuldig bevind word, moet die skoolbeheerliggaam besluit oor gepaste stappe, wat skorsing en/of gedragsintervensie kan insluit.
“Indien die komitee uitsetting aanbeveel, moet ‘n aanbeveling vir uitsetting aan die departementshoof van die WKOD voorgelê word vir hersiening.
“Kennis moet geneem word dat dit slegs die hoof van ‘n provinsiale onderwysdepartement is wat ingevolge die wet die mag het om ‘n leerder te skors.”Indien ‘n aanbeveling ontvang word, word die aanbeveling van uitsetting noukeurig deur die departementshoof oorweeg en hy of sy sal bepaal of die uitsettingsaanbeveling gehandhaaf of van die hand gewys moet word.”
Merton voeg by dat die skool verbind bly tot die handhawing van ‘n veilige en gedissiplineerde leeromgewing.
“Alle stappe wat gedoen word, is in lyn met die skool se amptelike gedragskode en die verwante onderwyswetgewing.”



