Rhime Louis Laubscher, nuwe wyksraadlid van wyk 6 in die Bergrivier-munisipaliteit.
Rhime Louis Laubscher, nuwe wyksraadlid van wyk 6 in die Bergrivier-munisipaliteit.

Talle inwoners het hul kruisie getrek tydens die tussenverkiesing vir ‘n nuwe wyksraadslid vir wyk 6 in die Bergrivier-munisipaliteit (BM) tussen Dinsdag 22 en Woensdag 23 Julie. Die stemlokale was by die Aurora- en Noordhoek-gemeenskapsale en die Dwarskersbos-woonwapark.

Met ‘n persentasie van 44.84% het Rhime Louis Laubscher van die Demokratiese Alliansie (DA) die wyk oorgeneem as wykraadslid. Ander kandidate wat meegeding het was (in alfabetiese orde van vanne): Reginald Heinrich Daniel Carolus (38) van die Patriotic Alliance (PA), Felicia Dianne Lottering vir die African National Congress (ANC) en Bahle Sikhuni vir die Economic Freedom Fighters (EFF). 

Volgens die Verkiesingskommissie (OVK) was die opkoms vir die tussenverkiesing 62.65% in vergelyking met die 2021 LGE-kieseropkoms van 56.91%.

Michael Hendrickse, die OVK se provinsiale verkiesingsbeampte, bedank al die geregistreerde kiesers wat gestem het en spreek ook ‘n woord van waardering uit teenoor al die verkiesingspersoneel en lede van wetstoepassing.

‘n Herinnering dat Suid-Afrikaanse burgers wat nie geregistreer is nie of wat moet herregistreer weens ‘n adresverandering, dit ook op die amptelike OVK-webwerf kan doen by elections.org.za.

Ondersteuners van die PA het hul ondersteuning vir kandidaat Carolus getoon. Foto: Noluvu Ludidi
Die EFF lede. Foto: Noluvu Ludidi
Lean en Nicolette Adams het hul kandidaat ondersteun. Foto: Noluvu Ludidi

Volgens Laubscher het die verkiesing goed verloop, soos beplan, en het hulle al hul doelstellings bereik.

“Die sege maak vir my as persoon die deur oop om die gemeenskap te kan dien soos wat ek plegtig onder eed sal beloof, wanneer ek as die wyksraadslid ingesweer word. My boodskap aan die gemeenskap is dat ons hande moet neem en saam moet werk om na die belange van die gemeenskap om te sien. Op my eie sal dit nie moontlik wees nie, maar met ondersteuning van gemeenskapslede kan ons ‘n beter leefbare omgewing skep waarin ons kan floreer.”

Laubscher wil begin deur ‘n goeie kommunikasiekanaal te stig om sy verhouding met die gemeenskap te vestig. “Juis omdat gemeenskapsdeelname ‘n baie groot rol in die plaaslike regering speel .”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article