Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, knip die lint by die amptelike opening van St. Helenabaai se herboude Langpad. Foto’s Danie Hefers

Die Agterbaai se nuwe “Langpad” is die afgelope Vrydag (25 Julie) uiteindelik amptelik geopen.

Dié dorpspad word beskou as St. Helenabaai se ekonomiese slagaar en is teen ‘n koste van byna R200 miljoen herbou. Die projek, wat sowat 300 werksgeleenthede geskep het, is in Mei 2023 begin en vroeër vanjaar voltooi.

Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, het die provinsiale regering se vertroue in die Weskus as ekonomiese groeipunt op die amptelike openingsgeselligheid bevestig.

Volgens Simmers is die pad, wat van die West Point-visfabriek tot by Stompneusbaai strek, ‘n kragtige ekonomiese dryfveer vir die dorp. “Daar is reeds ‘n geskatte aanvanklike kapitaalinvloei van R900  miljoen in die gebied waargeneem, wat direk aan 600 nuwe bouplanne gekoppel is,” sê Simmers.

Volgens die minister sal nóg sowat R4  miljoen na verwagting elke maand by plaaslike ondernemings deur nuwe inwoners en vakansiegangers bestee word.

“Die padprojek is ‘n beduidende belegging deur die Wes-Kaapse regering in die gemeenskap en ‘n hupstoot vir plaaslike handel en munisipale inkomste,” het Simmers gesê.

Die lintknip-geleentheid is bygewoon deur onder andere Eric Marais, die parlementslid vir die Weskusstreek; Boffie Strydom, die burgemeester vir die Weskus-distriksmunisipaliteit; Charmaine Laubscher, die Saldanha baai-munisipaliteit se onderburgemeester; Sharon Scholtz, die wyksraadslid vir die gebied, inwoners en sakelui.

Die St. Helenabaai-sakekamer het die nuwe Langpad verwelkom.

Volgens Stoan Bartel, die sake- kamervoorsitter, is dit ‘n broodnodige opgradering en die soort infrastruktuurbelegging wat ‘n groeiende dorp soos St. Helenabaai benodig.

St Helenabaai se nuwe, herboude hoofpad is amptelik geopen deur Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur. Van links is Eric Marais, Charmaine Laubscher, Tertuis Simmers, Sharon Scholtz en Boffie Strydom.
Die Agterbaai se blinknuwe dorpspad.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article