Met die aanbreek van ‘n nuwe skooljaar maak ons, soos elke ander jaar, onsself gereed vir die volgende graad. Skoolklere word aangepas, tasse word reggesit en roetines word hervat. Tog is hierdie jaar anders wanneer jou kind by die skoolhek instap. Daar is ‘n pas wat doelbewus breek, ‘n behoefte om langer te kyk, langer vas te hou en om die oomblik langer vas te vang. Die besef – hierdie is nie net nog ‘n skooljaar nie. Vir die Graad 7-leerders is dit die begin van hul laaste skooljaar.
Dit is die laaste eerste skooldag van laerskool; die laaste keer dat alles nog bekend sal voel – van die bekende gesigte en skoolhekke tot gange waar die graad-1 klasse begin … tot by die trappe waar die graad-7-klasse eindig; maats wat al sedert kleuterskool die pad saam stap, onderwysers wat jou kind help vorm het, tot ouers langs die sportvelde, waar hulle vriende geword het.
En sommer met die intrapslag kom die eerste hoërskool-opedag-nuusblaaie. Skoolkeuse is nie meer soos voorheen waar dit die norm was dat jy outomaties net oorgeplaas word na die hoërskool in die dorp nie. Besluite word nou al geneem – watter rigting jy gaan volg, soos landbou, tegnies, sport, akademies of kultuur. Watter skool gaan die beste by jou kind pas? Sommige kinders is meer aangedrewe op die sportterrein; ander wil weer in ‘n landbou-rigting studeer of stel meer belang in ‘n tegniese skool. Party leerders skuif oor na die hoërskool in die dorp. Sommige gaan busry, of ander gaan bloot waar die maats gaan.
So baie keuses is beskikbaar en so baie om in ag te neem, soos byvoorbeeld die koste van hoërskole – van die skoolfonds, uniforms, handboeke, koshuisfooie, buskoste en sakgeld tot al die ekstra aktiwiteite.
Hoërskool is ‘n groot finansiële sprong ongeag die keuse wat jy maak. Elke besluit het ‘n invloed op jou tyd, energie en geldsake.
Vir sommige leerders beteken die oorgang die begin van koshuislewe en groot aanpassings van nuwe mense, akademiese verpligtinge.
Daar is nie meer iemand wat elke dag seker maak jou kind se boeke of kosblik is ingepak nie. Die vryheid waarin hul by die huis gewoond was, gaan nou ‘n groot aanpassing wees. Skielik moet hulle ‘n kamer deel, met gereelde studie-ure en etensklokke wat hul nuwe norm sal raak. Alles is nou gestruktureerd en deel van hul daaglikse roetine.
Tog is daar tussen al die onsekerhede ook ‘n tikkie selftevredenheid eerstes beteken ook groei.
Hoewel die laaste laerskooljaar met al die laastes soos kleuresport, somersport, wintersport, laerskoolkonsert meebring, maak dit ook plek vir al die eerstes van hoërskool. Dit is nie net die einde van laerskool nie, maar ook die begin van groot besluite en nuwe uitdagings wat die hele huishouding sal raak.
Naweke, wat reeds kort gevoel het, raak nou nog korter. Die wasmandjie wat skaars leeg word, moet nou in rekordtyd gewas en weer gepak word gereed vir Sondagmiddag se terugkeer koshuis toe. Die huis sal dalk stiller wees en jou koskaste sal langer vol wees dit is alles deel van die lewe met ‘n koshuiskind. Nuut om aan gewoond te raak.
Jou kind se laerskoolpad kom dalk tot ‘n einde, maar elke laastes moet plek maak vir eerstes. Hou moed en sterkte vir die pad wat voorlê. Wie weet, dalk loop ons mekaar weer by ‘n byeenkoms raak, of iewers tussen die laastes en die nuwes. Al verander alles rondom ons, sal die herinneringe altyd naby bly. Hierdie oorgang beteken nie net ‘n afsluiting nie, maar ‘n nuwe begin vol avonture, uitdagings, vriende en nuwe herinneringe.





