‘n Produksiespan was verlede week geskok om wakker te word in hul verblyfplek in Shark Bay, Langebaan, en te besef dat duur kameratoerusting gedurende die nag gesteel is.
Wilmer Muller, woordvoerder vir Homebrew Films, wat die kykNET-reeks Lekker & Goed vervaardig, sê lede van die span is gelukkig almal ongedeerd ná die voorval op Woensdag 4 Maart.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, het die inbrekers vroeg in die oggend stilletjies by die villa ingebreek en die duur toerusting gesteel. Daar word vermoed daar kan ‘n verband wees tussen dié inbraak en verskeie ander in die omgewing, waar vensters soms met raam en al verwyder is om toegang tot die huise te kry. Die Langebaan-polisie ondersoek tans verskeie sake van huisbraak.
Muller sê die span kon gelukkig vinnig alternatiewe toerusting van Kaapstad laat kom sodat die verfilming sonder onderbreking kon voortgaan. “Ons is baie dankbaar dat niemand beseer is nie. Die voorval het geen vertragings veroorsaak nie en produksie het sonder probleme voortgegaan.”
Hy beklemtoon dat die produksiespan steeds welkom voel in Langebaan en dat hulle die gemeenskap se ondersteuning en gasvryheid baie waardeer.
Die span werk tans aan die tweede reeks van Lekker & Goed. Die verfilming het op Maandag 23 Februarie begin en sal na verwagting tot Woensdag 11 Maart duur. Al 13 episodes word weer in die Shark Bay-omgewing geskiet, net soos die eerste reeks in 2024.
Carmen Niehaus, bekende kosskrywer en televisie-persoonlikheid, is die aanbieder van Lekker & Goed. Die reeks, wat in 2025 vir die eerste keer op kykNET uitgesaai is, keer nou terug vir ‘n tweede reeks wat op 9 April begin. Niehaus deel in die program resepte en verwelkom bekende gaste soos Danie du Toit, Rolanda Marais, Yolani Abrahams, Mila Guy en Ewan Strydom.
Herman Lensing, bekroonde kosskrywer, televisiepersoonlikheid en redakteur van SARIE KOS, is deel van die produksiespan en dien as kosvervaardiger vir die reeks. Lensing het ook tydens die inbraak in die Shark Bay-blyplek tuisgegaan.
Muller sê intussen is ekstra sekuriteitswagte aangestel wat saans by die verblyfplek diens doen om die veiligheid van die span en toerusting te verseker.





