VREDENBURG – Ná hul nederlaag van 41 lopies teen Wellington op die Pen Basson-krieketveld die afgelope Saterdag (14 November), het die Vredenburg-Saldanha-Krewe -krieketklub op Sondag (15 November) op Krewepark gasheer gespeel vir Paarl-Oos.
Die Krewe se besluit om eerste te kolf nadat hulle die loot gewen het, was ‘n uitstekende besluit, want Horatio Cornelissen en Thandani Majebe het ‘n vennootskap van 53 lopies om die eerste paaltjie gedeel voordat Cornelissen sy paaltjie op 41 verloor het. Cornelissen was die Krewe se topkolwer, terwyl Charlton Villet (20) en Cecil Jooste (18) waardevolle bydraes gelewer het.
Die Krewe is uiteindelik tot 108/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk, wat Paarl-Oos die teiken van 109 lopies vir ‘n oorwinning gelaat het. Jevondre Jacobs het die Paarliete in die wedstryd gehou met ‘n goeie boulvertoning van 13/3. Paarl-Oos se aanslag op die teiken is ingelui deur Fernito Mehl (30) en met goeie ondersteuning van Wesley Seconds (19) en Jaydon Adams (19) het hulle die besoekers op koers gehou.
Die Krewe se Leighton Goeida het Paarl-Oos met akkurate boulwerk vasgeknoop, die paaltjies laat tuimel en ‘n uitstekende boulontleding van 9/4 in sy vier beurte behaal, terwyl Devon Smith goeie ondersteuning met 10/1 verleen het.
Toe dit lyk of Paarl-Oos die teiken gaan afslaan, het die Krewe se boulers vasgeskop en dit op dramatiese wyse met akkurate boulwerk in die laaste boulbeurte verander en die besoekers tot 108/9 beperk, om die wedstryd na ‘n superbeurt, wat die Krewe gewen het, te beklink.
LEES OOK: Krewe wen Paarl met 1 lopie





