Die Vredenburg-Saldanha-Krewe het Saterdag (22 November) ‘n klinkende oorwinning oor Caledon-krieketklub op ‘n kokende Dal Josafat-krieket se B-veld in die Paarl, waar die temperatuur tot omtrent 38 grade geklim het, in die laaste Boland-Super-T20- krieket wedstryd behaal.
Die Krewe het die loot gewen en besluit om eerste te boul. Caledon, wat dus ingestuur is om eerste te kolf, het ‘n goeie telling van 166/9 aangeteken, maar die vraag was – is dit genoeg om die Krewe te klop?
Robin Hess het Caledon se beurt met ‘n blitsige 46 lopies van 35 balle (vyf viere; drie sesse) begin voordat hy kleedkamer toe gestuur is.
Randy Davids het ‘n skaflike 21 van 14 balle (twee viere; een ses) bygedra.Die Krewe se boulers het egter druk op Caledon toegepas met die kaptein, Devon Smith, wat 3/28 geneem het en Thomas Kannemeyer wat hom uitstekend met ‘n ontleding van 2/2 bygestaan het, wat Caledon tot 166/9 in sy toegelate 20 beurte beperk het.
Die Krewe het die beurt vinnig begin en in drie boulbeurte reeds 50 lopies sonder die verlies van ‘n paaltjie op die telbord geplaas. Caledon se boulers het egter teruggeslaan en die Krewe in een stadium tot 100/3 beperk.
Die Krewe se openingskolwers, Cecil Jooste en Ashwin Petersen, het Caledon van die begin af gestraf.
Petersen het ‘n waardevolle bydrae gelewer voordat hy uitgevang is vir 26 van 18 balle (vier viere; een ses).
Jooste se beurt van 57 van 38 balle (agt viere, een ses) het die Krewe op die wenpad geplaas voordat hy ook uitgevang is. Ná Jooste en Petersen se vertrek het Kannemeyer die kolf ingelê en onder Caledon se boulers ingeklim en ‘n onoorwonne 40 van 34 balle (drie viere, een ses) gemoker.
Hy het ook die die Krewe se beurt met ‘n reuse-ses afgesluit, wat ook die wenlopies was. R. Davids was die beste Caledon–bouler met syfers van 1/21.
Met dié oorwinning met sewe paaltjies het die Krewe na die uitspeelrondes deurgedring, wat later vandeesmaand gaan plaasvind.





