Die tragiese dood van twee kleinneefs van Hopefield het dié gemeenskap geruk.
Met talle onbeatwoorde vrae worstel die familie van Elceno Linnerd (13) en Cyrano Linnerd (14) oor hoe hul lewens so vinnig kortgeknip kon word.
Die twee kinders het die afgelope Maandag (2 Maart) saam met nog ‘n maatjie by ‘n sandhoop op die hoek van Falkon- en Duineveldstraat in Hopefield gespeel toe die sand inmekaargesak het.
Die ander maatjie, glo 10 jaar oud, het dadelik om hulp gaan soek, maar met die aankoms van nooddienste en ten spyte van reddingspogings deur gemeenskapslede was dit te laat.
Kapt. Tania Helfrich, distrikswoord- voerder vir die Weskus-polisie, het bevestig dat die twee kleinneefs onder die sand vasgekeer was, waarna die vriend hulp gaan soek het.
“Lede van die gemeenskap het vinnig probeer help om die seuns te red. ‘n Voorlaaier van die munisipaliteit het probeer om die sand versigtig weg te kry en die gemeenskap het verder gegrou, maar dit was te laat.”
Volgens Magrieta Diedrichs, Cyrano se tannie, het die kinders nie gereeld by dié sanderige gebied gaan speel nie.
Diedrichs vertel dat sy Cyrano by die huis met ‘n graaf sien wegstap het. Sy het aangeneem hy gaan inwoners met tuin- werk help, soos wat hy dikwels gedoen het.
Dit het later bekend geword dat die drie seuns die graaf gebruik het om ‘n tonnel te grawe, waarvan die sand inmekaargesak het. Albei seuns het op die noodlottige dag hul wonings verlaat om te gaan speel, en die doodstyding was die laaste ding wat die familie verwag het.
Cyrano se gebroke pa, Clinton Kruger, was te emosioneel om te praat. Hy het wel met Weslander gedeel dat hy sy enigste kind vreeslik gaan mis.
Nayma Linnerd, Elceno se ma, het op die toneel gekom met die hoop dat haar kind nog sou lewe. Sy het nog met hom by die huis gesels en nie geweet dit was die laaste keer dat sy haar seun sou sien nie.
“My hart voel swaar. Ek moet nog deur die pyn werk,” het sy gesê.
Die twee kinders word beskryf as vriendelike en energieke kinders wat lief was vir geselsies aanknoop.
Yannick, Elceno se oudste broer, sê hy het groot drome vir sy jonger broer gehad.
“Ek was besig om hom te leer hoe om hare te skeer en mettertyd sou ek hom graag wou help om ‘n onderneming oop te maak. Ons het baie gestry en hy het my altyd getart en natuurlik altyd ‘n stryery gewen. Dit is een van die dinge wat ek van hom gaan mis,” vertel Yannick.
Serena van Alphen, ‘n Hopefield-inwoner wat aktief is in die gemeenskap, sê dis tragies wat gebeur het. “Dit moes nooit eintlik gebeur het nie, maar ons het nie altyd beheer oor omstandighede nie. Hulle was so jonk en in die fleur van hul lewens. Hulle het ‘n mooi en goeie toekoms gehad. Hopefield is ‘n dorp waar die mense saamstaan, mekaar ondersteun.
“Dit is ‘n groot skok vir die gemeenskap. Soos ek deur die gemeenskap beweeg, is daar oral vrae wat nie beantwoord kan word nie en daar is hartseer, veral onder die ouers.”
Op sosiale media het medelye ingestroom en word die familie in gebed opgedra.
Beide die familie en die gemeenskap meen verantwoordelikheid moet geneem word vir die sanderige gebied voordat nog ‘n tragiese voorval plaasvind.
Ethne Lawrence, woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê hulle het met groot hartseer van die tragiese voorval verneem.
“Ons betuig ons opregte meegevoel aan die betrokke families. Ek kan bevestig dat sodra goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontvang is, die munisipaliteit sal voortgaan om die gebied in Hopefield gelyk te skraap.




