Die Weskus se jukskei-spelers het die afgelope naweek na Beaufort-Wes gereis om aan die gesogte M.P. Prinsloo-toernooi deel te neem.
Saterdag (4 Februarie) was die Weskus-jukskeidistrik se tweede keer dat hulle aan die toernooi deelgeneem het. Sewe provinsies en distrikte neem jaarliks aan die toernooi deel.
Verlede jaar het die plaaslike spelers in die sesde plek geëindig, maar hulle het vanjaar op dié prestasie verbeter en vierde geëindig.
Altesaam 28 spanne het vir die toernooi ingeskryf, wat in drie afsonderlike afdelings deelgeneem het. Die Weskus is deur ses spanne verteenwoordig.
Die Weskus-jukskeidistrik het die goue medalje in die B-afdeling verower en die silwermedalje in die C-afdeling.
Die plaaslike spelers sê dit was ’n groot eer om Weskus op so ’n groot toernooi te kon verteenwoordig. Saam het die groep spelers uit die verskillende jukskei-klubs in die Weskus bestaan.





