Die nuus dat die hofsaak van die vermiste Joshlin Smith in alle waarskynlikheid in die Weskus aangehoor sal word, het gemengde gevoelens ontlok. Dit volg nadat regter Gayaat da Silva-Salie luidens ’n berig op Netwerk24 gesê het dit is in die belang van die Weskus-gemeenskap “noodsaaklik dat hulle toegang tot die verrigtinge moet hê”.
Joshlin se ma, Kelly, het Vrydag alleen in die beskuldigdebank in die Kaapse hooggeregshof verskyn weens ’n administratiewe fout wat daartoe gelei het dat haar mede-beskuldigdes, Steveno van Rhyn en Boeta Appolis, nie betyds na die hof gebring kon word nie.
Die saak het sedert die soektog na klein Joshlin op 19 Februarie van stapel gestuur is, nasionale en selfs internasionale aandag geniet. Hoewel ’n saak van hierdie aard met die grootste deursigtigheid hanteer moet word en die publiek gewis die reg het om ingelig te wees oor wat die hofsaak oplewer, moet die vraag gestel word of dié besluit nie die verhoor moontlik kan vertraag of belemmer nie, gegewe vorige verskynings in Vredenburg wat op tye hewige emosies en selfs geweld ontlok het.
Alle aanduidings is dat die verhoor na Saldanha sal skuif. ’n Geskikte perseel moet gevind word en dit sal waarskynlik as ’n hofsaal ingerig word. Dit beteken waarskynlik ook dubbeld die gewone veiligheidsmaatreëls en polisieteenwoordigheid om die veiligheid van almal teenwoordig te verseker – dit terwyl die polisie landwyd en gewis in die Weskus reeds onderbeman is. Die addisionele ontplooiing van personeel en inrigting van ’n gebou om as ’n tydelik hooggeregshof te dien, hou addisionele kostes in – dit terwyl talle ander geaffekteerde families in opspraakwekkende Weskus-sake, waaronder dié van Derick Kalmeyer wat skuldig bevind is aan die moorde op die kleuters Faith en Conray Adams van Hopefield, asook die beskuldigdes in die Berodine Boyce-moordsaak, wat later vrygespreek is, keer op keer op eie onkoste na die hooggeregshof moes reis en die publiek via die media ingelig gehou is.




