Die seremoniemeester Ashley Pienaar saam met van die dag se kunstenaars wat opgetree het.


“Dit was ’n Jeugdag-geleentheid soos geen ander in die Bergrivier- munisipale gebied.”

Só het Ray van Rooy, uitvoerende burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, Donderdag 16 Junie die gelaaide atmosfeer in die Velddrif-stadsaal beskryf.

Hier het jonges en dié jonk van gees kom kyk na ’n verskeidenheid talentvolle plaaslike en streekkunstenaars wat die skare met topklas vermaak van vroeg tot laat op hul voete gehou het.

Sowat 300 jongmense het van al die verskillende dorpe binne die munisipale gebied gekom om die gratis, bekoorlike vertoning te geniet.

Hierdie geleentheid is ook regstreeks op die munisipaliteit se amptelike Facebook-blad uitgesaai sodat oud en jonk vanuit die gemak van hul huis dit kon meemaak.

Ashley Pienaar, die seremoniemeester, en die lang lys talentvolle jong kunstenaars, wat Gabriel “Lil Emo” Monk, TessE, DJ Stiney, Annie “Ek is Annie” Fortuin, Aidam-John & Lil Willy, Violynn Sauls en die Motivational Rappers Group ingesluit het, het behoorlik die skare op hul voete gehou.

“Ek kon sien hoe opgewonde die jongmense was om deel te wees van so ’n groot jol soos wat hierdie geleentheid was. Hulle het in hul sitplekke gedans, saam met die gunstelingkunstenaar liedjies gesing en al die plaaslike vermaak op die verhoog geniet,” het Van Rooy gesê.

Hy het bygevoeg hoewel Jeugdag ’n dag is om alle jongmense te vier, moet die afgryslike gebeure wat tot hierdie openbare vakansiedag in Suid-Afrika gelei het nie vergeet word nie.

Jong nie-blanke leerders het die strate van Soweto op 16 Junie 1976 ingevaar om teen ongeregtighede in die onderwysstelsel, wat landwye onrus ontketen het, te betoog. Hierdie betogings het tot die dood van vele jong kinders, insluitend Hector Pieterson, gelei.

Die Bergrivier-munisipaliteit het al die vennote en belanghebbendes wat hierdie geleentheid vir die jeug spesiaal gemaak het, bedank.

’n Spesiale dankie is ook aan al die kunstenaars, wat hierdie dag vir al die jongmense by die geleentheid so onvergeetlik gemaak het, gerig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article