Die lewe is nou maar eenmaal vol uitdagings, maar om die enigste introvert in ‘n ekstroverte huishouding te wees, is ‘n daaglikse uitdaging.

Daar is nie iets soos om gou ‘n brood te gaan koop nie – dit ontaard meestal in ‘n elle lange gesprek met vreemde mense oor als van vis-aas tot plakkies.

Dis hier waar die kinders maats raakloop en sommer gou-gou ‘n “playdate” reël.

Om ‘n introvert te wees, beteken om so min moontlik aandag op jouself te probeer vestig.

So het ek nou al ‘n paar keer oorgekom dat my ekstroverte familie die middelpunt van aandag was. My seun was omtrent vyf jaar oud toe hulle by ‘n karatebyeenkoms in ‘n ry sit om hul kata te doen. Terwyl die organiseerder besig was om die reëls en verloop van die byeenkoms te verduidelik, was almal se aandag eintlik op my seun gevestig, wat met oorgawe besig was om sy toonnael, wat ‘n haakplekkie het, reg te byt. Dis op hierdie oomblikke wat ek maak of ek die fotograaf is in plaas van die ma.

So het ons ook onlangs ‘n byeenkoms bygewoon waar die tema “helder” was. My man was natuurlik so opgewonde soos ‘n kind in ‘n speelgoedwinkel.

Ná twee uur se op-en-af in die Mall, het ons uiteindelik uitgestap met ‘n pienk hemp en ‘n baie pienk hoed wat nou pas by sy flamingo-kortbroek. Gelukkig kon hy nie pienk Crocs of ‘n tutu kry wat hom pas nie.

By die huis gekom was hy steeds nie oortuig dat hy helder genoeg lyk nie en kry toe in sy werkskas ‘n oranje oorpak wat hy sommer bo-oor die pienk hemp en broek aantrek.

Die eindresultaat was hy wat lyk soos ‘n “highlighter” wat die verkeerde kleur doppie teruggekry het.

Ek het my bes probeer om in te blend – net genoeg helder om by die tema te pas, maar nie te veel om aandag te trek nie. Dis hier waar ek ongesiens agter hom ingeloop en gaan sit het terwyl almal nog die bont uitrusting bewonder het.

En terwyl ek so na my “loud highlighter” gekyk het, het die vrou langs my gesê: “Jul huis het seker nooit ‘n dull moment nie.” En ek het besef… ons het nie.

Hierdie ekstroverte in my huishouding is ook luidrugtig – als wat hulle doen, is op ‘n hoë noot. Hulle dink selfs hardop, praat in hul slaap en lag dat die bure hulle ook moet hoor.

Dit gebeur selde dat ons ‘n naweek net by die huis deurbring, maar ás dit nou die dag gebeur, is almal van koers af.

Dan loop hulle sommer winkel toe net om uit te kom.

Waar ek op ‘n Vrydag voel ek het my kwota vir mense bereik, het hulle geen begeerte om sonder geselskap oor die weg te kom nie. Hulle sal sommer met die uitklimslag met die bure gaan gesels.

Meestal skud ek net my kop vir my buite-die-boks-familie, maar ek is dankbaar – baie dankbaar dat my kinders eerder hul pa se ekstroverte persoonlikheid aangeneem het.

Ek dink dit is meer voordelig om ‘n buite-die-boks-mens te wees; jy word in die samelewing beter aanvaar.

Hopelik bring dit ook eendag balans – dat hulle rustigheid ook kan ervaar; selfs tussen mense.

Op die ou einde is dit nie die bont of die luidrugtigheid wat saak maak nie, maar die feit dat ons mekaar vryheid gee om te wees wie ons is.

Ons hoef nie mekaar in boksies te druk nie – ons moet net ruimte laat vir anders wees. En dalk is dit juis die kombinasie van sy highlighter-energie en my stille modus wat maak dat ons gesin werk… en uniek is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article