Geloofsleiers en lede van uiteenlopende godsdienstige tradisies het die afgelope Saterdag (31 Januarie) vir ‘n kragtige intergeloofsgebedsoggend bymekaargekom.
Die geleentheid het by die Saldanhabaai- vakansieoord plaasgevind en is aangebied deur Wiedaad Davids, stigter van West Coast Faith Solutions, in vennootskap met die Suider-Afrikaanse geloofsgemeenskappe se omgewingsinstituut.
Die byeenkoms het leiers en verteenwoordigers van verskillende gelowe byeengebring om te bid vir die welstand van ons gemeenskappe wat sosiale, ekonomiese en omgewingsuitdagings in die gesig staar. Sentraal tot die gebede was die groeiende ontbering wat die vissersgemeenskappe en kusgemeenskappe ervaar, wie se lewensbestaan toenemend bedreig word.
Geloofsleiers het besin oor die werklikheid wat die Weskus in die gesig staar, veral die impak van olie- en gaseksplorasie op mariene ekosisteme. Gemeenskappe het dalende visvoorrade waargeneem en ervaar ‘n verlies aan inkomste en toenemende voedselsekerheid, wat druk op vis- sersgesinne en die breër gemeenskap plaas.
Skrifgedeeltes en leringe uit verskeie godsdienstige tradisies is gedeel, wat die morele verantwoordelikheid beklemtoon het om vir die skepping te sorg, die kwesbares te beskerm en geregtigheid na te streef. Die byeenkoms het ook beklemtoon dat omgewingskade nie net ‘n ekologiese kwessie is nie, maar ook ‘n geestelike, sosiale en ekonomiese onreg.
Besluitnemers is versoek om na die stemme van gemeenskappe te luister en om volhoubare, mensgesentreerde alternatiewe te prioritiseer wat die seelewe beskerm, menswaardigheid respekteer en ‘n toekoms vir komende geslagte verseker.
Die intergeloofsgebedsoggend is afgesluit met ‘n belofte deur geloofsgemeenskappe om voort te gaan om te pleit vir klimaatsgeregtigheid, die beskerming van oseane en die regte en waardigheid van vissers en kusgemeenskappe.




