Inbrekers het die afgelope week in die Weskus sportpersele, sakeondernemings en wonings behoorlik geplunder en besteel.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, het Laaiplek by Velddrif behoorlik deurgeloop.
Daar is tussen 12 en 13 Oktober by die Velddrif-rolbalklub in Smitlaan ingebreek en twee kolligte ter waarde van R3 000 en 5 m koperkabels van R1 000 gesteel. Die perseel is ook verniel. Daar is terselfdertyd ook koperkabels by die Smit Park-sportterrein gesteel. ’n Yskas is uit ’n huis in Noordhoek gesteel terwyl die klaer Donderdag 12 Oktober tussen 12:00 en 22:00 nie tuis was nie. Saterdag 15 Oktober is ’n selfoon ter waarde van R5 000 van die Animal Care-winkel in Laaiplek se toonbank gesteel. Dit het glo blitsig gebeur. Iewers tussen 9 en 14 Oktober is ’n fiets ter waarde van R45 000 uit ’n huis in Port Owen gesteel.
In St. Helenabaai is ’n skuifdeur vroegoggend op Vrydag 13 Oktober opgelig om toegang tot ’n huis in Steenberg’s Cove te verkry en ’n televisiestel te steel. Saterdagoggend 14 Oktober tussen 02:00 en 06:00 het ’n inbreker in Langebaan ook ’n skuifdeur opgelig en voertuigsleutels en goedere ter waarde van R19 000 uit ’n huis gesteel.
Inbrekers het gedurende die nag van 14 en 15 Oktober ook by ’n huis in Suffrenstraat, Langebaan, ingebreek deur die skuifdeur op te lig. Hulle is vort met voertuigsleutels en selfone.
Inbrekers het volgens Helfrich binne ’n kwessie van minute op Saterdagmiddag 14 Oktober diefwering by ’n huis in Vygiestraat, Langebaan, oopgebreek en goedere ter waarde van R1 980 gesteel.
In Vanrhynsdorp het ’n dief iewers tussen 14 en 15 Oktober nie net die televisiestel gesteel nie, maar sommer ook twee bottels rooiwyn én sigarette.
Selfs die Matzikama-munisipaliteit het deurgeloop met ’n inbraak tussen 14 en 15 Oktober by hul kantore in Lutzville waar ingebreek en 67 liter petrol gesteel is. ’n Klagte van inbraak by ’n sakeperseel word ondersoek.
Goedere ter waarde van R57 600 is tussen 1 en 14 Oktober uit ’n sakeperseel in Riebeek-Wes gesteel. Die gebou se deur is oopgebreek om toegang tot die perseel te verkry.
’n Vrou van Citrusdal het Sondagoggend 15 Oktober met haar aankoms by haar huis opgemerk dat daar by die huis ingebreek en haar skootrekenaar gesteel is.
Sowat R620 se sigarette en lekkergoed is Sondagoggend uit ’n plaaswinkel in die Citrusdal-omgewing gesteel. Die booswigte het ’n venster verwyder om toegang te verkry.
Op Moorreesburg is R10 000 se goedere Vrydagaand uit ’n winkel in Kameeldoringboomstraat gesteel terwyl ’n werknemer net vir ’n kort tydjie die winkel verlaat het.
Learnard Bosch (40) is in Saldanha in hegtenis geneem nadat hy tussen 12 en 13 Oktober by ’n gastehuis ingebreek en ’n pak klere gesteel het.
’n Ruit ter waarde van R1 500 is by die Saldanha-poskantoor gesteel, iewers tussen Vrydagnag en Saterdagoggend.
Tussen 14 en 15 Oktober is daar by ’n sakeonderneming in Saldanha se nywerheidsgebied ingebreek. Die inbrekers het deur die dak toegang tot die perseel verkry en goedere en kontant van sowat R186 000 gesteel.
Op Vrydag 13 Oktober is nagenoeg R11 200 se elektriese goedere by die Louwville-sportterrein op Vredenburg gesteel.
Dieselfde dag is R15 900 se artikels uit ’n huis in Vredendal-Noord gesteel terwyl die klaer haar kinders skool toe geneem het. Die inbrekers het deur die dak toegang tot die huis verkry.
Gereedskap is tussen 13 en 14 Oktober uit ’n huis, ook in Vredendal-Noord, gesteel, en Saterdagaand is daar by nog ’n huis in Vredendal-Noord ingebreek en R5 500 se artikels gesteel.
Helfrich raai inwoners aan om veiligheidshekke by hul skuifdeure te laat installeer, omdat hierdie soort inbrake na verwagting tot ná Kersfees gaan toeneem.




