Die identiteit van die man wat Sondag 23 Februarie in ’n los kortbroek van die strand by Lambertsbaai gesien is waar hy gedobber het, is steeds onbekend.

Nickie van der Bank, Lambertsbaai-stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die polisie het hulle omstreeks 14:30 verwittig van ’n moontlike geval van verdrinking in die branders voor Strandstraat.

Ooggetuies het aan die polisiebeamptes gesê hulle het ’n man wat leweloos gelyk het, in die water sien dryf. Hulle het ook die EMS-nooddienste van die Wes-Kaapse regering laat kom.

Die JetRIB-reddingstuig van die NSRI Lambertsbaai is te water gelaat en die bemanning het ’n man in die water naby die rotsagtige kuslyn sien dryf.

’n NSRI-reddingswemmer het van die reddingstuig af in die water geduik en die volwasse man, wat slegs ’n los kortbroek aangehad het, na die reddingstuig gebring. Die bemanning het met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin en by die Lambertsbaai-hawe het EMS-paramedici by hulle aangesluit.

Nadat lede van die NSRI en EMS alles probeer het om die man by te bring, is hy dood verklaar.

Die lyk van die ongeïdentifiseerde man is in die sorg van die polisie na staatsgesondheid se forensiese patologiedienste geneem.

’n Geregtelike doodsondersoek­dossier is deur die Lambertsbaai-polisie geopen.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat hulle kan bystaan om die man te identifiseer of meer inligting oor die voorval het, om die polisie by 027 432 8260 of 10111 te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article