Visser-neefs van Lambertsbaai verdrink op soek na snoek


Twee neefs van Lambertsbaai se verkluimde lyke is Saterdag 12 April – ‘n dag nadat hulle op see vermis geraak het – in vlak branders gekry waar hulle mekaar steeds vashou.

Chester (links) en Hesron van der Heever.
Chester (links) en Hesron van der Heever.

Chester van der Heever (35) en sy neef, Hesron “Blik” van der Heever (31), se familie het Vrydagaand 11 April bekom merd begin raak toe hulle nie met die visserskuit Mhatambo teruggekeer het nie. Hulle is die oggend uit om te gaan snoek vang.

Volgens Ferdi Fransman, ‘n gemeenskapsleier in Lambertsbaai, is sowat veertig bote Vrydag see toe, waarvan ‘n hele paar weens die mistige toestande van koers af geloop het.

Die Nasionale Seereddings- instituut (NSRI) is Vrydag omstreeks 18:45 deur die polisie verwittig dat ‘n visserskuit met twee vissers aan boord vermis word.

Die familie het die neefs by die polisie as vermis aangemeld.

Lede van die Lambertsbaaise polisie en die NSRI het hierop na hulle begin soek, hoewel niemand presies geweet het waar die mans snoek gaan soek het nie.

Die vermoede was egter dat hulle dalk suidwaarts gaan visvang het.

NSRI-reddingsvaartuie is te water gelaat en het met ‘n lynsoektog tussen Lambertsbaai en Elandsbaai begin – sowat 15 seemyl van die kuslyn af. Die NSRI se diensbeheerders het die soekpatrone vasgelê. Telkom se maritieme radiodienste het ‘n waarskuwing na skepe in die gebied uitgestuur sodat hulle ook op die uitkyk kon wees.

Die polisie het kuslangs gesoek.
Omstreeks middernag Vrydagnag is die soektog opgeskort en weer op Saterdag met sonopkoms hervat. Vaartuie van die NSRI se takke op Lambertsbaai, St. Helenabaai en Mykonos het in die uitgebreide soektog naby die kus en in die diepsee gehelp.

Saterdagaand omstreeks 19:26 het die polisie die NSRI ingelig dat ‘n visskuit omgeslaan in vlak branders naby die bekende Muisbosskerm-buitelug-restaurant lê.

Die skuit se beskrywing het ooreengestem met die beskrywing wat van die vermiste skuit gegee is.

Die polisie en plaaslike gemeenskapslede op die toneel het gehelp om die boot uit die branders te haal. Kort hierna is die Van der Heever-neefs se lyke ook in die vlak branders gekry.

Hulle lyke is na die staatsgesondheidsforensiese patologiedienste geneem, waar ondersoeke die oorsaak van hul dood sal bepaal.

Chester se tweelingbroer, Roberto “Bacon” van der Heever, vertel dat die twee neefs bakkiemaats was en gereeld saam op die see uit is. “Hulle was amper soos broers.”

Chester (links) en Roberto "Bacon" van der Heever as klein seuntjies.
Chester (links) en Roberto “Bacon” van der Heever as klein seuntjies.

Chester het sy passie vir die see gekry as kind, toe hy en Roberto saam met hul pa, John van der Heever, vakansietye gaan kreef vang het. Chester het ‘n baie groter passie vir die see as Roberto ontwikkel en het sedert 2010 baie kere saam met hul pa see toe gegaan. “My pa het hom geleer om ‘n gesoute visserman te word.”

Hesron het ook later saam met John begin see toe gaan en gehelp om genoeg kreef vir sy kwota te vang.

Die twee neefs het ook gereeld die Mhatambo gevat om hotnotsvis (Cape bream) te gaan vang as daar nie ‘n snoek-run was nie.

“Omdat ons Van der Heevers ‘n baie gehegte familie is, het ons basies saam grootgeword,” sê Roberto.

Hy sal veral Chester se getergery oor sy biceps mis. “Hy wou my aanspoor om my biceps groter te kry deur meer gym toe te gaan.”

Roberto en Chester het nog albei by hul ouers, John en Catherine, gewoon en gehelp om die geldelike druk “wat vandag se lewe meebring, ‘n bietjie meer draaglik vir ons ouers te maak”.

Hulle gaan ook die vis mis wat Chester gereeld huis toe gebring het wanneer geld ‘n bietjie skraps was.

Die huis gaan nou stil wees sonder Chester se rap- en reggae-musiek wat uit sy kamer gespeel het terwyl die res van die gesin televisie gekyk het.

Die tweeling sou op 14 September hul 36ste verjaarsdag gevier het.

Die Van der Heever-familie is verpletterd, maar sy ouers is “gelukkig sterk gelowige Christene”, so hy berus hom daarop dat hulle in hierdie tyd van beproewing krag van die Here kry.

Benewens ‘n bedrewe visser was Chester ook ‘n gekwalifiseerde toergids. Hy en Hesron was bekend vir hul uitgebreide kennis van die see en die Lambertsbaai-omgewing.
Hesron laat sy vyfjarige seun, Reshaad, agter.
Fransman pleit al vir jare by verskillende owerhede vir die oprig van ‘n mishoring vir Lambertsbaai. ‘n Mishoring gee hoorbare waarskuwings vir seevaarders in lae sigbaarheidstoestande soos mis, swaar reën of snags sodat hulle veilig kan navigeer en botsings vermy.
Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek ná die Van der Heever-neefs se dood geopen.
‘n Gesamentlike roudiens word Donderdag 24 April in die VGK-kerk in Lambertsbaai gehou. ‘n Begrafnisdiens volg Saterdag 26 April met ‘n huisdiens om 09:00 in Saulstraat en 10:00 in Besterstraat, gevolg deur ‘n kerkdiens by die AGS Emanuel-kerk.

Chester van der Heever (links) saam met sy niggie, Wilmic van der Heever en sy tweelingbroer, Roberto "Bacon" van der Heever.

Chester van der Heever (links) saam met sy niggie, Wilmic van der Heever en sy tweelingbroer, Roberto “Bacon” van der Heever.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article